pitkos header
Plaas press@tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
November 2019
WAT GEBEUR BY TLU SA

Belangrik om te weet

Dinamika in TLU SA

tlu

Die Uitvoerende komitee (UK) het op 16 Oktober 2019 vergader ten einde die kongresbesluite te verwerk om praktiese beslag daaraan te gee. Gegewe die realiteite waarbinne landbou vandag staan, is daar opnuut besin oor wat TLU SA te doen staan om vir 'n positiewe uitkoms op koers na 2030 te werk. Die volgende vier punte is gestel as uitkomste waarvoor daar gewerk gaan word:

  1. ‘n Omgewing waarbinne SA burgers veilig kan woon en werk;
  2. ‘n Volledige vryemarkstelsel gebaseer op privaat besitreg;
  3. Onbelemmerde deelname aan nasionale en internasionale handelsmarkte; en
  4. ‘n Regering wat verantwoordbaar is aan die kiesers.

Vanuit hierdie punte is daar 20 uitkomste geïdentifiseer wat na die onderskeie komitees deurgegee word. Dié komitees werk aan die uitkomste en maak aanbevelings aan die UK. Ons wil lede opnuut versoek om deur die strukture by die onderskeie komitees betrokke te raak en hulle kundigheid te deel. Die relevante komitees is die Ekonomiese volhoubaarheidskomitee, die Eiendomsregkomitee, die Watersakekomitee en die Veiligheidskomitee.


Kommunikasiebeplanning

kommunikasie

Die UK beplan om binnekort ‘n volle dag af te staan om saam met die kommunikasievennote aan ‘n kommunikasiestrategie te werk.

Deur die TLU SA-beginsels meer doeltreffend te verpak en na buite te kommunikeer het vanjaar reeds gelei tot 2 122 nuwe ondersteuners en lede.

In die toekoms wil ons die boodskap van 'n realistiese toekoms rondom die regte beginsels  nog sterker uitdra. Elke lid is in hulle optrede en uitsprake hier ‘n ambassadeur. Daarom moet elkeen van die streke in hulle 2020-beplanning voorsiening maak om geleenthede te skep waar ons die leiers van die onderskeie affiliasies rondom ons kommunikasiestrategie kan oplei.

TV-insette op internet

boermedia

Ons is saam met die Boermediaspan baie opgewonde oor die daarstel van ‘n ateljee in TLU SA se hoofkantoor waar daar voortaan 'n verskeidenheid van programme opgeneem en verpak gaan word vir o.a.  landbou. Die eerste opnames waarby TLU SA betrokke sal wees word reeds opgeneem.

Dit is nog 'n geleentheid waar ons die landbou-saak, maar ook TLU SA se waardes en beginsels, beter kan uitdra. 

Die onderskeie insetsels sal op die sosiale netwerke as skakels gepubliseer word, vanwaar ons lede dit dan verder kan versprei.

My waarheid... of joune?

vraag

Ons ervaar gereeld in die media dat rolspelers teen mekaar afgespeel word teen die agtergrond van die een of ander misverstand. Dit raak dan 'n geval van die een se “waarheid” teenoor die ander se “waarheid”.

Die vraag is natuurlik: ‘Wie is reg?’.

'n Samelewingsorde beskik oor 'n kultuur van integriteit of die afwesigheid daarvan.

Hoe word ons as individue en as organisasie deurentyd geëvalueer oor ons integriteit? Kan ons vandag nog in alle eerlikheid sê dat ons 'n kultuur van integriteit nastreef?
Daar waar my woord my eer is. Ouma se waarheid oor die "kerke leeg en die tronke vol".   Waar gaan haal ons die waardes wat ons rig - daardie waardes wat my "waarheid" gaan bepaal? 

Mag ons in alle nederigheid volhard om onsself steeds te toets teen die Woord van God as die enigste rigtinggewer wat kan help om seker te maak ons "waarheid" sal die regte een wees. Dit kan ons net regkry uit genade alleen.


Kalender en Geleenthede

kalender

Ons is in 'n baie aktiewe tyd van die jaar waar die onderskeie affiliasies afsluitingsfunksies en organiseringsvergaderings hou. Ons wens almal baie sterkte hiermee toe.

Gee asb hierdie inligting deur sodat dit ook op die kalender op die webblad geplaas kan word.


Leedwese

Een van TLU SA se vorige presidente, oom Gert Ehlers, se eggenote, tannie Martie  het ons na 'n lang siekbed ontval. Haar roudiens het op Vrydag 18 Oktober plaasgevind.

Ons wil vir oom Gert en die familie baie sterkte toewens om ook in hierdie tyd berusting te vind. As diep gelowige mense is dit reeds so ervaar by oom Gert en die kinders.

Water werksessie

water

‘n Tweedaagse werksessie met ‘n afvaardiging van die departement het op 1 en 2 Oktober by TLU SA se hoofkantoor in Silverton plaasgevind.

Die gedagtewisseling was openhartig en die departement was tegemoetkomend om die geskilpunt te besleg. Na omvattende besprekings oor twee dae, is besluit om die werksessie op te volg met ‘n groep verteenwoordigende individue wat om dieselfde rede in 2013 ‘n dispuut oor die akkuraatheid van fakture met die departement verklaar het. 
Daar word voorsien dat hierdie aangeleentheid binnekort ter plaatse met die groep bespreek sal word wat hopelik sal lei tot ‘n model wat toegepas kan word om ook die res van die dispuutverklaarders se kommer te beantwoord.


Nuus uit die Noorde

George Barnard, ’n TLU SA Noord-lid wat in die Marble Hall omgewing boer en ‘n wyle gelede ook TLU SA se Jong Boer van die Jaar was, is op 18 September aangewys as Syngenta se jaarlikse Aartappelboer vir 2019. Die toekenning is tydens Aartappel SA se Kongres oorhandig.


Belas alle skadelike gasse vir omgewingsvriendelike volhoubare landbou

plaas

Met dank aan Herman Toerien.

‘n Advieskomitee van die Nederlandse ministerie van Landbou het aanbeveel dat heffings op alle kweekhuisgasse geplaas word. Dit is onontbeerlik om volhoubare landbou moontlik te kan maak, aldus die komitee. Belasting moet gevolglik op metaan, CO2 en stikstof gehef word.

Die komitee het bevind dat volhoubare landbou slegs moontlik is as alle skadelike gasse belas word en landbou sonder residu so uitvoerbaar word.

Die gedagte is dat boere wat byvoorbeeld boorde aanlê wat voedsel voorsien, en ook CO2 opneem, beloon word uit ‘n deel van die betrokke belastinginkomste.

Lees volledige verslag hier.

SAMEWERKING & GELEENTHEDE

Koöperatiewe bank vir TLU SA dalk 'n moontlikheid

kongres

Tydens die kongres is in die presidentsrede bevestig dat daar ‘n TLU SA Koöperatiewe Bank gestig sal word indien daar voldoende onderskrywers daarvoor is. Daar word 200 lede benodig om dit te registreer. 

Indien die proses voortgaan, sal dit uiteraard klein begin met finansiering in eie geledere, en met die nodige ondersteuning groei om alle TLU SA-lede te ondersteun.
Persone wat belangstel om aandele op te neem moet onderneem om ten minste vyf aandele teen R100 elk op te neem. Geen gelde is nou betaalbaar nie – dit sal eers aangevra word nadat die belangstelling getoets is.

Belangstellendes kan ‘n e-pos na sekretaresse@tlu.co.za stuur en die nodige aansoekvorm aanvra. 

Boervrou geskenkpakkies

geskenk

TLU SA het met dank kennis geneem van die inisiatief om geskenkpakkies bymekaar te maak en te versprei na boervroue in nood.

Ons wil graag ‘n woord van groot dank rig teenoor die persone wat die projek op die been gebring het. Ons wil graag die nodige erkenning en dank gee en dit ondersteun.
Ons is bewus dat die droogte in sekere streke reeds sulke afmetings aangeneem het dat die boere en hul werkers nie meer voedsel vir hulself het nie en ook nie die middele het om dit te kan bekom nie. 

Die kumulatiewe effek van die droogte, die onsekere beleidsomgewing en onstabiele veiligheidstoestande druk swaar op die gemoedere van boere. Dit is in sulke tye die vrouens wat grootliks die gesin bymekaar hou en stabiliteit gee. Dit gaan nie ongesiens verby nie.

Na gesprekke met die Presidente van die SAVLU, Tharina Rossel, is besluit dat TLU SA en die SAVLU gesamentlik ook ‘n soortgelyke projek in die noorde van Suid-Afrika gaan loods ter aansluiting en ook ter ondersteuning van dit wat reeds gedoen word.

Persone en instansies wat graag wil bydra om skoenbokse te verpak met verskeie verrassingsitems vir vroue, kan dit by die volgende afsetpunte gaan aflewer of verneem waar dit gedoen kan word:

  • TLU SA  Hoofkantoor, Jamesrylaan 194 Silverton Pretoria 012 804 8031;
  • Gert Cruywagen (Wesstreek) 082 497 0386;
  • Danie du Plessis (Oosstreek) 082 929 3347; en
  • Drickus Botha (Noordstreek)  082 774 9287.

TLU SA sal die pakkies versprei deur gebruik te maak van bestaande strukture sowel as verskeie kerke.  
Persone wat graag iemand wil nomineer waar die omstandighede druk, kan die volle besonderhede (insl. naam, plaas, distrik, dorp, kerkverband en kontaknommer) aanstuur na sekretaresse@tlu.co.za.

 

VEILIGHEID

Bekendstelling van die SAPD se opgedateerde Landelike Veiligheidstrategie

saps

Die bekendstelling van die nuutste weergawe van die SAPD se Landelike Veiligheidstrategie het op 11 Oktober te Louis Trichardt plaasgevind. TLU SA is tydens die geleentheid verteenwoordig deur die Noordstreek se voorsitter, Henk van de Graaf terwyl die Streeksbestuurder, Drickus Botha intiem gemoeid was met die voorbereiding vir die geleentheid. Beide here het hulself uitmuntend van hul taak gekwyt. Die nuutste weergawe van die strategie is reeds na TLU SA belanghebbendes versprei.

Gesprek met die SAPD

‘n Afspraak met die Nasionale Polisie Kommissaris is hangende. Dit was oorspronklik vir 10 September geskeduleer, maar sy teenwoordigheid by die bekendstelling van die afgelope finansiële jaar se misdaadstatistiek, het noodgedwonge tot gevolg gehad dat TLU SA in afwagting is vir ‘n nuwe datum. Intussen het daar wel ‘n informele gesprek plaasgevind met die waarnemende Voorsitter van die Nasionale Prioriteitskomitee waartydens die volgende kwessies bespreek is:

  • die konsep van Landbouveiligheid in plaas van “Plaasaanvalle” om sodoende ook ander misdade as nasionale prioriteit te verklaar;
  • die konsep van ‘n landbouvriendelike SAPD Reservistestelsel;
  • die verifikasie met amptelike SAPD-statistiek van insidente wat in TLU SA se Register van Insidente opgeneem word; en
  • die skepping van ‘n Landbouveiligheidfsforum waar belanghebbende instansies onderling kan koördineer ten opsigte van insette by die verskillende vlakke van SAPD forums.

Na aanleiding van die gesprek met die Nasionale Kommissaris, het die SAPD onlangs ‘n lys van misdade intern gesirkuleer met die versoek dat geadresseerdes addisionele misdrywe kan voorstel. TLU SA het tydig aan hierdie versoek voldoen en etlike bywerkings asook kommentaar met betrekking tot swaarder strawwe en bewyslas (veral waar verdagtes eerder bewys van teenwoordigheid ver weg van die misdaadtoneel moet lewer) is aanbeveel. Die uitkoms hiervan word afgewag.

Strategiese beplanning

Die UK en streeksbestuurders het op 16 Oktober vergader waartydens die beplanning vir die volgende siklus hanteer was. Die Veiligheidsuitsette van daardie beplanningsessie is geskeduleer vir bespreking tydens ‘n werksessie van die Veiligheidskomitee op 23 Oktober.

Protokol: Toegang tot plase en landbouhoewes

Dit word weereens onder die aandag van grondeienaars gebring dat die bestaande protokol wat toegang tot plase en landbouhoewes reguleer steeds van toepassing is. Dit is eweneens van toepassing op Eskom-werknemers en -kontrakteurs wat meterlesings moet neem. In alle gevalle moet afsprake vooraf met eienaars/bestuurders getref word.

 

HULP EN VERSTERKING

Droogtehulp deur Traumafonds

droogte

Die mees effektiewe manier vir weldoeners om droogtegeteisterde boere te ondersteun, is om fondse aan die TLU SA Traumafonds te skenk.

Die fondse word so gekanaliseer dat boere in nood by hulle plaaslike verskaffers kan aanklop vir droogtepille en diesel, waarna die Traumafonds die koste sal dek.

Vervoer van skenkings word ook altyd benodig.
Boere in nood en donateurs kan sekretaresse@tlu.co.za kontak om reëlings te tref.

Die TLU SA Traumafonds is ‘n geregistreerde Art.18A-organisasie, wat beteken dat daar ‘n belastingvoordeel vir skenkers is.

 
VELDTOGTE & AKSIES
Rooivlae-veldtog

Die omstrede Grondpaneelverslag sal nie net verreikende gevolge op landbou hê nie, maar ook op enige ander grondeienaars in die land. TLU SA het besef dat die algemene publiek onbewus is van die implikasies wat die implementering van die voorstelle in die verslag op hulle eiendom kan hê.

TLU SA bou reeds ‘n geruime tyd aan die TLU SA Eiendomregsfonds wat hoofsaaklik aangewend sal word vir hofsake rondom grondonteiening.

Die Rooivlae-Veldtog is bekendgestel waardeur die publiek aangemoedig word om hierdie fonds te ondersteun.

Vir meer inligting oor die Rooivlae Veldtog, besoek die webblad hier.

#BLF

‘n Brief is gerig aan die Dirtekteur Openbare Vervolging met die versoek dat TLU SA binne veertien dae terugvoer verlang oor die stand van die aanklag teen en vervolging van die leier van die BLF, Andile Mngxitama na aanleiding van sekere uitsprake wat in die opinie van TLU SA blatante haatspraak verteenwoordig.

Ondersteun gerus die veldtog by hierdie skakel.