pitkos header
Plaas press@tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
September 2019
WAT GEBEUR BY TLU SA

Belangrik om te weet

Verandering aan die TLU SA Manifes

Die Algemene Raad het besluit om ‘n bykomende klousule by die TLU SA Manifes by te voeg. Dit lui as volg:

  • Ek vereenselwig my met TLU SA se standpunt dat die toepassing van vryemarkbeginsels met minimum staatsinmenging in die ekonomie, en gewaarborgde privaat besitreg, die hoeksteen vorm van groei. Dit bied die enigste volhoubare kans vir werkskepping, armoedeverligting en vooruitgang vir Suid Afrika.

Die volledige Manifes is by hierdie skakel beskikbaar.


TLU SA se profiel

Ons wil graag baie dankie sê vir verskeie rolspelers wat die afgelope tyd aan TLU SA se profiel gehelp bou het. Hieruit het ongeveer 1 500 nuwe aansluitings gerealiseer.
Oor die jare het ons leier-boere volhard om vas te staan by daardie beginsels wat landbou positief kan rig. Duidelik begin dit dividende lewer indien ons na die navrae en boodskappe kyk wat van saakmakende rolspelers met ons gedeel word. Dit is nou 'n baie goeie tyd om te kyk waar daar leemtes is ten opsigte van betrokkenheid en om dan 'n beplanning te doen om daardie gebied te aktiveer. 
Kontak ons gerus by die hoofkantoor indien ons behulpsaam moet wees om gemeenskappe te kom toespreek.


Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsreg

kongres

TLU SA is sedert 2008 deel van Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsreg waar 'n uiteenlopende groepering van organisasies standpunt inneem vir die beginsel van privaat besitreg as die basis wat kan help om die ekonomie te stimuleer. Die ad hoc-groep het op 16 Augustus vergader en gesamentlik sterk standpunt ingeneem om die onteiening sonder vergoeding-proses teen te staan. Die organisasies het besluit om individueel sowel as gesamentlik alles in ons vermoë te doen om in die belang van Suid-Afrika se toekoms die ANC te stuit in hul poging. Lees die verklaring hier.   


Waterkomitee vergadering

kongres

Die aanvangsvergadering van die Waterkomitee het op 15 Augustus plaasgevind en ‘n aantal belangrike aspekte is onder die loep geneem. Die dryfkrag van die vergadering is aangevul deur die kennis en ervaring van mnr. Louis Verhoef en dit word vertrou dat die dooiepunt wat tans heers ten opsigte van die verklaarde dispuut tussen TLU SA-lede en die Departement van Water en Sanitasie, gou doelmatig aandag sal ontvang. Intussen het TLU SA in ‘n brief aan die minister ‘n dringende vergadering versoek om die aangeleentheid te bespreek, maar tot dusver was daar nog geen reaksie uit die ministerie nie. Die saak word opgevolg.


Landbou se posisionering

Die omstandighede rondom landbou is dikwels buite ons beheer en daarom moet ons eenvoudig anders na landbou begin kyk.   

Daar is gewis verskeie aspekte wat boere negatief stem wanneer hulle beplanning vir  boerderye doen. Beleidsonsekerheid met die fokus op onteiening sonder vergoeding, landelike veiligheid, ekonomie van skaal (winsgewendheid) sowel as die kwaliteit van ons hulpbronne met spesifieke  fokus op waterbeskikbaarheid en veral die kwaliteit daarvan, staan veral uit. 
TLU SA het komitees saamgestel wat voluit werk om oplossings vir hierdie potensiële bedreigings te skep.
Die ekonomiese volhoubaarheidskomitee het byvoorbeeld reeds heelwat idees bespreek oor hoe lede hulle teen die ekonomie van skaal kan verskans.   

Daar word ook ondersoek ingestel na metodes om die hele waardeketting te betrek by die risiko vir graanboere om te verseker dat die bron van hulle besigheid – die kommersiële boer – nie verdwyn nie.


Kongres 2019 – 18 September 2019

kongres

Daar is nog geleentheid vir ons lede om vir die 2019 Kongres te registreer. Dit sal baie positief wees indien ons die saal tydens die kongres kan vol maak.

Die kongres is tradisioneel uiters stimulerend en van groot waarde vir die onderskeie affiliasies.

Afgevaardigdes kry ook tydens die kongres die geleentheid om leiers te verkies. 

Ons wil beklemtoon dat lede wat nie afgevaardig is nie, as waarnemers net soveel kan put uit die kongres deur dit by te woon. 

Kontak vir Lynne by 012 804 8031 of stuur ‘n e-pos indien jy wil registreer.   


Kongres Dag Twee – Interne geslote sessie
Soos die gebruik die laaste paar jaar, sal ons op Dag Twee van die kongres (19 September) 'n interne geslote sessie vir TLU SA-lede (afgevaardigedes en waarnemers) by die hoofkantoor aanbied. 

Daar sal indringend besin word oor die terreine waarop TLU SA moet fokus ten einde oplossings vir die toekoms van landbou te vind. 

Elkeen se insette is van groot belang en dis die ideale geleentheid om direk insette te lewer wat dan tydens die UK se strategiese beplanningsessie verder verwerk sal word. 
Meer besonderhede hieroor sal binnekort versprei word.


Netwerk van besighede in Israel

'n Lys van die Israeliese maatskappye wat in Suid-Afrika besigheid doen sowel as van die ander wat graag hier wil bande bou, is beskikbaar om by hierdie skakel af te laai.
SAMEWERKING & GELEENTHEDE

Samewerkingsooreenkomste

TLU SA as organisasie bly beginselbegrond en vanuit daardie verwysingsraamwerk is ons bereid om met ander organisasies saam te werk.

Dit is vir ons 'n sterk oorweging om telkens groter wringkrag te genereer deur vir spesifieke sake bondgenote te vind. Dit kan beteken dat ons oor 'n saak met 'n organisasie of organisasies kan saamwerk al verskil ons oor ander sake. 

Die beginsel van eiendomsreg is 'n goeie voorbeeld. Ons dien saam met ander organisasies waarmee ons oor verskeie ander sake ernstig verskil, in die Ad hoc-groep oor die Beskerming van Eiendomsreg waar ons saamstem oor die benadering tot eiendomsreg.

Dit bring vir TLU SA groter bedingingsmag wat op sy beurt tot 'n beter kans op sukses lei.  Dit is belangrik dat ons, ons eie identiteit en waardes behou en daardeur die nodige invloed uitoefen om rigting te gee. Dit beteken dat TLU SA deurlopend werk om uitkomste, oftewel resultate te bereik en nie bloot speel vir die pawiljoen om die een of ander populistiese profiel te probeer verkry nie.

TLU SA gee regsdiens aan lede

kongres

Lede van TLU SA het geleentheid om tot 9 September 2019 regsvrae aan tlu@vdtreg.co.za te stuur, welke vrae gratis geantwoord sal word deur ʼn gekwalifiseerde prokureur. 
Meer besonderhede is by hierdie skakel beskikbaar.

Gebruik van hierdie gratis adviesdiens is onderhewig aan voorwaardes wat by die bogenoemde skakel bespreek word.

Finansiële Welstand Lessenaar

Jou pensioengeld is in wesenlike gevaar.

Gegewe die feit dat die regering nou baie momentum daaraan gee om die Pensioenfondswet te wysig sodat hulle hul doel kan bereik, raak dit nou kritiek belangrik dat TLU SA-lede daadwerklik moet optree en besin oor hoe om hulle pensioenbeleggings te posisioneer en hanteer vir die toekoms.

Vind hier meer inligting oor die beskikbare opsies om sodoende ‘n ingeligte besluit te neem.

VEILIGHEID

Veiligheidsbulletins

Lede word opnuut aangemoeding om kwessies wat opklaring of toeligting deur middel van ‘n Veiligheidsbulletin verg, onder die aandag van die hoofkantoor te bring.

Insette en bydraes kan gerig word aan dienste@tlu.co.za.

Gesprek met die SAPD

Na ‘n eerste rondte samesprekings met die Nasionale Polisiekommissaris op 2 Mei 2019, vind ‘n opvolgvergadering op sy versoek, binnekort weer plaas. Tydens die vorige rondte samesprekings was hy beïndruk met die insette van die landbouers en daar is ‘n mate van optimisme oor sy ontwikkelende begrip vir die noodsaaklikheid om na landbouveiligheid eerder as die enger begrip van geweldsmisdade op plase en hoewes te kyk.

Bedreigingsanalise

Gegewe die wye spektrum van kriminele bedrywighede insluitend wat die samelewingsorde ontwrig, infrastuktuur vernietig, vrye beweging beperk, moord op politieke opponente, georganiseerde misdaad wat talle sektore van die ekonomie en samelewing bedreig en privaatbesit ondermyn en vervreem, word pogings tans aangewend om hierdie toedrag van sake te definieer sodat ‘n akkurate interpretasie van verwikkelinge moontlik gemaak kan word.

 
HULP EN VERSTERKING
Droogtehulp deur Traumafonds

Die mees effektiewe manier vir weldoeners om droogtegeteisterde boere te ondersteun, is om fondse aan die TLU SA Traumafonds te skenk.

Die fondse word so gekanaliseer dat boere in nood by hulle plaaslike verskaffers kan aanklop vir droogtepille en diesel, waarna die Traumafonds die koste sal dek.
Vervoer van skenkings word ook altyd benodig.
Boere in nood en donateurs kan sekretaresse@tlu.co.za kontak om reëlings te tref.

Die TLU SA Traumafonds is ‘n geregistreerde Art.18A-organisasie, wat beteken dat daar ‘n belastingvoordeel vir skenkers is.

Plaashuise Register

TLU SA het in Augustus die Plaashuise Register bekendgestel om boere wat in nood verkeer by te staan met verblyf. Die inisiatief is met positiwiteit ontvang en verskeie weldoeners het reeds verblyf aangebied, soos die een hieronder van Pieter van der Linde

Ons plasie van 27ha is in Badplaas geleë.

Daar is ‘n drieslaapkamerhuis op die perseel en die voornemende inwoners sal moet betaal om die krag deur Eskom aan te sluit, en ook vir die krag wat elke maand gebruik word.

Daar is 'n baie sterk boorgat met 'n dompelpomp wat in die kombuis aanskakel. Dit pomp die 2 500 liter watertenk in 40 min vol as dit leeg was. Die plaas het ook waterregte uit die voor wat van die berg af kom, en is die laaste verbruiker op die lyn wat beteken dat die water nie verder versprei hoef te word nie.

Die plaas beskik oor ‘n motorhuis en personeelverblyf ongeveer 30m van die huis, waarin ‘n werker reeds bly.
Die ideale persoon is 'n boer wat daar met iets kan begin boer – die klimaat en omgewing is blykbaar geskik vir bloubessies. Ons stel die plaas vir een jaar aan ‘n boer en gesin beskikbaar om weer op die voete te kom. Die grond moet bewerk word en na ‘n jaar kan die boer moontlik die plaas koop of dan ander heenkome vind.  

Kontak Pieter van der Linde by 082 782 6857 of stuur ‘n e-pos aan metrisolve@gmail.com.

Biddag vir Boere in Nood

By TLU SA het ons geen twyfel dat ons krag van God Drie-enig af kom nie. Dit is in groot genade dat ons daagliks geseën word, en daarom moet ons deurlopend ons verhouding met ons Skepper uitbou, soveel te meer in tye van nood.

Die groot onsekerhede van vandag is menslik gesproke baie moeilik om te hanteer, maar die verhouding met God Drie-enig is 'n persoonlike saak vir elk, en ons respekteer elkeen se siening oor hoe om tot ons Vader te nader. 

Ons wil kerke en instansies wat moeite doen om in te tree vir die omstandighede waaronder ons boere gebuk gaan graag bedank. Suid-Afrika het baie wysheid nodig in die dae. 

Dr Bennie Marais van die NG Gemeente Charl Cilliers wat vir baie jare reeds 'n besondere noue band saam met die landbougemeenskap stap, het laat weet dat daar op 7 September 2019 'n Biddag vir Boere in Nood by hul gemeente gehou gaan word.

Die toegang is gratis en die Kerkkantoor kan by 017 6400 239 gekontak word. Ander kontakpersone is Anelda Maritz by 082 669 0333 of Dr. Bennie Marais by 076 913 4861.

Die program is soos volg:
9:00 - Biduur
10:00 - Prof Stephan Joubert

VELDTOGTE & AKSIES
Rooivlae-veldtog

Die omstrede Grondpaneelverslag sal nie net verreikende gevolge op landbou hê nie, maar ook op enige ander grondeienaars in die land. TLU SA het besef dat die algemene publiek onbewus is van die implikasies wat die implementering van die voorstelle in die verslag op hulle eiendom kan hê.

TLU SA bou reeds ‘n geruime tyd aan die TLU SA Eiendomregsfonds wat hoofsaaklik aangewend sal word vir hofsake rondom grondonteiening.

Die Rooivlae-Veldtog is bekendgestel waardeur die publiek aangemoedig word om hierdie fonds te ondersteun.
Vir meer inligting oor die Rooivlae Veldtog, besoek die webblad hier.

#BLF

‘n Brief is gerig aan die Dirtekteur Openbare Vervolging met die versoek dat TLU SA binne veertien dae terugvoer verlang oor die stand van die aanklag teen en vervolging van die leier van die BLF, Andile Mngxitama na aanleiding van sekere uitsprake wat in die opinie van TLU SA blatante haatspraak verteenwoordig.

Ondersteun gerus die veldtog by hierdie skakel.