pitkos header
Plaas press@tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Augustus 2019
WAT GEBEUR BY TLU SA

Belangrik om te weet

TLU SA Kongres 2019 - "Volhoubare Landbou-produksie:  Uitdagings en Geleenthede"

Die jaarlikse kongres is gewis 'n hoogtepunt op ons kalender. Die affiliasies het reeds die inligtingstukke vir inskrywing ontvang.  Buiten afgevaardigde lede, is ander lede van TLU SA baie welkom om die kongres as waarnemer by te woon. Die kongres is jaarliks vir talle ‘n baie verrykende ervaring.

Dag twee van die kongres is 'n geslote geleentheid slegs vir TLU SA-lede. Daar sal dan aandag gegee word aan die knelpunte waaronder landbou gebuk gaan en almal kan kom help werk aan oplossings. Hier is die waarnemers se insette ook van uiterste belang. 

Vir navrae kan Lynne by 012-804 8031 of registrasie@tlu.co.za gekontak word. 

Skryf spoedig in, ten einde die administrasie te kan afhandel sodat daar nie onnodige druk op die einde geskep word nie.
Die sluitingsdatum vir alle inskrywings is Vrydag, 2 Augustus 2019.


Minister van Water en Sanitasie

‘n Brief word gerig aan die minister ten einde die dispuut met die departement en sy skuldinvorderingsagentskap wat sedert 2013 van krag is te bespreek. Tot op datum was geen vordering gemaak aangesien die TLU SA-afvaardiging elke keer met ‘n nuut-aangestelde Finansiële Hoof te doen gehad het. Dit is in belang van watergebruikers, ander landbouers en die politieke hoof van die departement dat daar spoedig tot ‘n wedersyds-aanvaarbare oplossing gekom word. Die minister se reaksie word afgewag.


Digitale profiel van TLU SA

Sedert die begin van 2019 het TLU SA se profiel baie meer positief geword. Baie dankie vir die Bemarkingspan sowel as die Belsentrum wat hierin konstruktiewe bydraes gemaak het.

Sosiale netwerke is 'n kragdadige meganisme waarop daar positiewe blootstelling bewerkstellig kan word. Dit is byvoorbeeld belangrik hoeveel persone van TLU SA se Facebookblad hou (likes). Daar is reeds ongeveer 5 500 persone wat hul ondersteuning daarop aangedui het. 
Ons wil ons lede wat wel op Facebook betrokke is versoek om seker te maak dat u wel TLU SA se blad ondersteun deur die ‘Hou Van’-opsie (Like) te kies. Die blad kan by hierdie skakel gevind word:web.facebook.com/TLUSAsedert1897/

Enige ondersteuners kan ook hulle vriende nooi om die blad te volg. Doen dit gerus.

Deur die hoeveelheid ondersteuners te vermeerder, kan ons reikwydte en blootstelling in die algemene publiek ook verhoog word.


TLU SA Jongboere kompetisie

Die finaliste van die TLU SA / Old Mutual Insure Agri / Manitou / Mahindra-Jongboerkompetisie was van 22 – 24 Julie op hulle plase beoordeel deur ‘n paneel van ses persone.

Vanjaar is ons bevoorreg dat 'n mediaspan ons vergesel het en die blootstelling van die kandidate was deurlopend, maar gaan ook tydens die kongres baie hoër wees.

Die wenners sal op 18 September tydens ons kongres bekend gemaak word.


Landbou Tegnologie konferensie in Israel

Die Hoofbestuurder van TLU SA, Mnr. Bennie van Zyl, het van 24 - 27 Junie die Agri Israel 4-konferensie in Israel bygewoon. Die omstandighede in Israel het hul genoodsaak om spesifiek ten opsigte van waterbenutting in al sy vorme navorsing te doen om met die minimum water die maksimum opbrengs te kry. 

Tegnologie word ingespan vir die doel en daar is heelwat wat by hulle geleer kan word. Dit is egter belangrik om te besef dat tegnologie ook verkeerdelik aangewend kan word en dat dít ‘n duur oefening kan wees. Dit is belangrik dat daar met nugter denke 'n besluit geneem moet word oor die aanwending van tegnologie.  

'n Lys van die maatskappye wat in Suid-Afrika besigheid doen sowel as van die ander wat graag hier wil bande bou, word binnekort vir die oorweging van lede versprei.


Volhoubaarheidskonferensie 16 Julie


TLU SA se Ekonomiese Volhoubaarheidskomitee het op 16 Julie 'n beraad gehou waarheen alle rolspelers in die waardeketting sowel as die media genooi is. Die voorsitter, Gawie van Rensburg, het 'n oorsig gegee oor die doel van die komitee en die beraad, waarna Prof. Koos de la Rey konteks gegee het oor die toestand van landbou in Suid-Afrika.  Daarna het Bennie van Zyl twee scenarios geskets waar produsente dit eerstens ernstig moet oorweeg om hul kragte saam te snoer om as ‘n groter eenheid te boer en tweedens te kyk na opsies om die risiko beter deur die waardeketting te versprei.

Dr Gawie du Toit het 'n uitleg gegee oor hoe om met ‘n graanboerdery vir winsgewendheid te boer in teenstelling daarmee om opbrengs na te jaag. Sy model is waardevol en ons het weereens besef dat die onderste lyn op die balansstaat die grootste belang behoort te dra. 

Die president van TLU SA, Louis Meintjes  het 'n samevatting gegee en die pad vorentoe aangedui. 

Die momentum ten opsigte van die beraad word behou deur ‘n werksessie van die Ekonomiese Volhoubaarheidskomitee op 29 Julie waartydens die insette verwerk sal word om by die praktyk uit te kom.

Die insette van die beraad kan by hierdie skakel gevolg word:  

SAMEWERKING & GELEENTHEDE

TLU SA en ander organisasies

TLU SA word van tyd tot tyd deur ‘n verskeidenheid organisasies genader vir nouer skakeling of samewerking. Die Verenigde Vryheidsalliansie het ook sopas ‘n versoek gerig of dit onder die lede se aandag gebring kan word vir moontlike oorweging om betrokke te raak. 

TLU SA is ‘n landbou-organisasie en dit word duidelik in ons grondwet gestipuleer dat ons nie by enige politieke proses betrokke kan en sal raak nie. Dit staan enige lid egter vry om na hulle eie oortuiging in eie hoedanigheid betrokke te raak by die strukture wat hulle graag sal wil ondersteun.  
Die druk wat ons vandag in Suid-Afrika ervaar verg dat persone betrokke moet raak by meer as net hul landbou-organisasie. Meelewing in die staatkundige prosesse, by skole, veiligheidstrukture, by die kultuurlewe en veral op die geloofsterrein is noodsaaklik en elkeen behoort na hul oortuiging en omstandighede ook op daardie terreine te help om ‘n verskil te maak.

TLU SA gee regsdiens aan lede

Lede van TLU SA het geleentheid om tot 10 Augustus regsvrae (hoogstens twee per persoon) in te stuur na 'n prokureur waarna die vrae sonder benadeling van regte so goed moontlik beantwoord sal word.

Meer besonderhede is by hierdie skakel beskikbaar.

Kragdag - 8 tot 10 Augustus

TLU SA gaan vanjaar tydens Kragdag 'n landbou-afdeling saam met die tradisionele Kragdag vir alternatiewe energiebronne aanbied. Dit word aangebied by Diamantvallei (oos van Pretoria reg oorkant Kleinfontein).
Ons wil ons lede versoek om dit te kom bywoon.

Om die R90 hekfooi vir toegang vry te spring, registreer vooraf by www.kragdag.co.za

TLU SA gaan gedurende die geleentheid ook paneelbesprekings oor aktuele sake aanbied.  Lees gerus meer oor Kragdag self en die Raadsaal Program.  

LWO

Wanneer vakbonde aanspraak maak op regte binne die werksplek, kan dit ʼn ongemaklike situasie skep vir werkgewers wat onseker is rakende hul eie regte en dié van die vakbond, asook hoe hierdie regte gereguleer word. 

Slegs geldige vakbonde kom in aanmerking vir enige regte in die werksplek en beveel ons aan dat werkgewers die volgende doen. Lees meer hier

VEILIGHEID

Veiligheidsbulletins

Tot op datum was die Veiligheidsbulletin in PDF-formaat versprei ten einde selektiewe uittreksels te verhoed. Daar is egter versoek dat die Bulletin eerder in Word-formaat versprei word aangesien die TLU SA identiteit in sommige gevalle geloofwaardigheidsimplikasies inhou. Die aangeleentheid word tans ondersoek en ‘n finale besluit sal binnekort aan lede gekommunikeer word.
Intussen word die aandag daarop gevestig dat lede welkom is om onderwerpe aan die hand te doen, of om self pen op papier te sit en sodoende bydraes te maak wat die veiligheid binne die landbougemeenskap sal bevorder. Bydraes kan gestuur word aan dienste@tlu.co.za

Jaarlikse Veiligheidskompetisie

Die Algemene Raad het tydens die vergadering op 17 Julie 2019 besluit dat daar nie vanjaar ‘n nuwe veiligheidskompetisie ingestel sal word om erkenning te gee aan veiligheidstrukture wat goed presteer nie.

‘n Merkstaat is tans in proses van finalisering en evaluasie sal volgende jaar plaasvind met die oog op die eerste toekenning van die trofee gedurende die 2020 TLU SA Kongres.

Misdaad Databasis

Na ‘n onlangse gesprek met die SAPD Nasionale Kommisaris was dit duidelik dat die Polisie sensitief is vir die begrip van “Misdaadstatistiek” aangesien “statistiek” dui op data wat behoorlik geverifieer is. Gevolglik is besluit dat die TLU SA Misdaad Databasis voortaan bekend sal staan as die TLU SA Register van Insidente.

Tot nou was daar uitsluitlik gefokus op geweldsmisdade, maar die noodsaaklikheid om ingevolge die bestaande Nasionale Landbouveiligheid Strategie ook na diefstal en besettings te kyk, impliseer dat sodanige misdrywe ook voortaan geregistreer sal word.

Kyk gerus onder Artikels & Navorsing op ons webwerf na die nuutste Insidente Register.

Droogtehulp deur Traumafonds
 

‘n TLU-Droogtefonds is gedurende 1962 in die lewe geroep na ‘n vyf jaar lange droogte en herhaaldelike uitbreking van bek-en-klouseer in Transvaal. Deur die fonds en hulp van die publiek is tonne voer, weiveld en transportsubsidie aan geteisterde boere beskikbaar gestel het.

Vandag gaan baie van ons boere weer gebuk onder die knelgreep van ‘n droogte.

Die mees effektiewe manier vir weldoeners om hierdie boere te ondersteun is om fondse aan die TLU SA Traumafonds (die voormalige Droogtefonds) te skenk. Die fonds word onder andere aangewend om bystand te verskaf aan kommersiële boere in droogtegeteisterde gebiede.
Die fondse word dan so gekanaliseer dat boere in nood by hulle plaaslike verskaffers kan aanklop vir droogtepille en diesel, waarna die Traumafonds die koste sal dek. Vervoer van skenkings word ook altyd benodig.

Boere in nood en donateurs kan sekretaresse@tlu.co.za kontak om reëlings te tref.

Die TLU SA Traumafonds is ‘n geregistreerde Art.18A-organisasie, wat beteken dat daar ‘n belastingvoordeel vir skenkers is.}

NUUS UIT DIE STREKE
 

OOS

SAPD skakeling
Die polisie en boere in Iswepe, naby Piet Retief in Mpumalanga het op 18 Julie 2019 stewige brûe tussen die rolspelers in die gemeenskap gebou. Die amptelike skakelgeleentheid tussen die LUR vir Gemeenskapsveiligheid en Sekuriteit in Mpumalanga - Cynthia Shabalala; die Provinsiale Kommissaris van SAPS - Genl. Zuma; Mpumalanga Landbou; en TLU SA, het positiewe resultate gelewer. TLU SA vertrou dat hierdie geleentheid die voorloper van nog beter samewerking tussen die gemeenskap, boere en die polisie sal wees.

Nuus uit die Oosstreek: Julie 2019
Die twee streeksvergaderings wat vanjaar reeds aangebied is, was van groot waarde vir die boere wat dit bygewoon het. Die volgende vergadering voor die Kongres in September is op 3 Augustus in Ermelo. TLU SA se Hoofbestuurder, Mnr. Bennie van Zyl en ander kenners oor landbou-aspekte sal as sprekers optree. Lees meer oor die Oosstreek by hierdie skakel.

SENTRAAL

Nuus uit die Sentraalstreek: Julie 2019
Die Sanddrift Landboufees op die terrein van Laerskool Sanddrift is ons eie omgewing se fees gefokus op Landbou en die Boere-gemeenskap van Brits, Sanddrift, Beestekraal en Atlanta. Lees meer oor die Sentraalstreek by hierdie skakel.

NOORD

Prospektering
Ook die land se noordelikste provinsie word toenemend geteiken met prospekteringsaansoeke van instansies wat wil myn. TLU SA se Noordstreek was instrumenteel daarin dat ’n prospekteringsaansoek in die Warmbad-omgewing teruggetrek het. Lees meer hieroor.

VELDTOGTE
#SOS

Die Suid-Afrikaanse regering beur voort met hulle pogings om die land se grondwet te verander sodat grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind. Die bedreiging tot privaat besitreg sal ‘n noodlottige effek op die Suid-Afrikaanse ekonomie hê.

Met TLU SA se #SOS-veldtog stuur ons ‘n noodsein aan die buiteland, wat hulle versoek om standpunt in te neem teen die grondwetwysiging en die Suid-Afrikaanse regering te waarsku om nie met die kortsigtige plan voort te gaan nie.

Jy kan help!

Deur jou kontakbesonderhede in te vul, stuur jy ‘n SOS aan verskeie buitelandse leiers, ambassadeurs en invloedryke rolspelers.

#BLF

Die BLF, onder leiding van Andile Mngxitama, gaan steeds voort met opruiende uitsprake oor grondonteiening en geweld teenoor wit boere.

Jy kan steeds ons veldtog ondersteun deur hierdie petisie te onderteken sodat hy vervolg moet word vir sy uitsprake rakende die moord op wit kinders en vroue.