pitkos header
Plaas press@tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Julie 2019
WAT GEBEUR BY TLU SA

Belangrik om te weet

Bekendstelling van plaasaanvalsyfers vir eerste deel van 2019


TLU SA bespreek vandeesweek die volgende sake rakende plaasaanvalle en -moorde tydens die bekendstelling van die plaasaanvalsyfers vir die jaar tot dusver. 

  • Die ses maandelikse misdaad tendense van plaasmoorde en plaasaanvalle - Genl. Maj. Chris v Zyl (aft)
  • Evaluasie van die Suid-Afrika realiteit – Louis Meintjes, President TLU SA
  • Die omvang van misdaad in Suid-Afrika met die fokus op die brutaliteit van die misdaad - Dr. Johan Burger
  • Die redelike mens se optrede gegewe die aanpasbaarheid van die Gemene Reg  – Prof Llewellyn Curlewis

Enige belangstellendes word genooi om die mediakonferensie op Donderdag 11 Julie 2019 om 10:00 by die TLU SA Hoofkantoor by te woon.

Volhoubaarheidskonferensie 16 Julie

tlu

Die landbou waardeketting se voortbestaan is grootliks afhanklik vir hul eie winsgewendheid en voortbestaan omdat kommersiële boere volhoubaar in produksie is. Uiteraard sal elke kommoditeit waarmee geboer word hul eie uniekheid vir die hantering van die risiko ervaar.   

TLU SA het sedert verlede jaar Oktober met rolspelers in die waardeketting begin gedagtes uitruil oor die moontlikheid om die risiko in landbou op ‘n nuwe manier te beskou. Verskeie gedagtes is reeds ontsluit en dit behoort verder ontgin te word.

TLU SA se Ekonomiese Volhoubaarheidskomitee nooi rolspelers in die landbou-waardeketting om op 16 Julie 2019 van 9:00 tot 12:00 ‘n Ekonomiese Volhoubaarheidsberaad by te woon.

Tydens die geleentheid sal TLU SA ‘n paar modelle met die rolspelers deel en dan die moontlikheid van beter modelle om risiko te verskans om die landbouketting die beste geleentheid tot voortbestaan te bied, bespreek.
Enige belangstellendes word genooi om die geleentheid by te woon:

Datum: Dinsdag, 16 Julie 2019
Tyd:9:00 tot 12:00
Plek: TLU SA Hoofkantoor, James Rylaan 194, Silverton
RSVP: Per e-pos by sekretaresse@tlu.co.za

TLU SA steek in Israel kers op oor landbou-tegnologie

tlusa

TLU SA het einde Junie ‘n omvangryke Landbou-tegnologie Konferensie in Israel bygewoon. Mnr. Bennie van Zyl, TLU SA se Hoofbestuurder, het die organisasie daar verteenwoordig.

TLU SA skakel voortdurend met Israel oor tegnologie. Hierdie skakeling het in die verlede reeds baie geleenthede vir TLU SA-lede verskaf om goed-ingeligte keuses te maak oor die benutting van tegnologie ten einde optimale winsgewende produksie te kan bereik.

Ons sal binnekort terugvoer gee oor die verwikkelinge, netwerke en geleenthede wat uit hierdie skakeling gespruit het.

Nuwe personeel
Twee nuwe personeellede het by die Hoofkantoorspan aangesluit.

Ons heet julle amptelik welkom en sterkte toe met die belangrike take wat julle het om te verrig.

  • Elanza Joubert is as die Hoofbestuurder se sekretaresse aangestel. Sy kan by sekretaresse@tlu.co.za gekontak word.
  • Luani du Preez is aangestel as die Administratiewe Beampte getaak met Ledesake en Bemarking. Kontak haar gerus by ledesake@tlu.co.za

TLU SA Kongres 2019 - "Volhoubare Landbou-produksie:  Uitdagings en Geleenthede"


Die beplanning rondom ons Kongres is in volle swang en daar is reeds inskrywings ontvang.  Sprekers het hulle beskikbaarheid en bereidwilligheid bevestig en dit beloof om ‘n besonderse kongres te wees. Sien meer inligting oor die sprekers hier.

'n Beroep word op ons lede gedoen om in groot getalle die kongres te kom bywoon.  Ons wil dit graag beklemtoon dat buiten die afgevaardigdes ander lede as waarnemers ook die kongres kan kom bywoon en affiliasies tot op grondvlak word aangemoedig om afgevaardigdes en waarnemers in te skryf. Waarnemers kan ook deelneem aan die besprekings en is slegs beperk wanneer stemming plaasvind.

Die program vir die in camera sessie op 19 September 2019 by die TLU SA-gebou vorder ook goed en die werksessie sal geleentheid bied aan kongresgangers om te help planne maak om landbou te rig.

Ook inskrywings vir ons damesprogram “Melktert, Maskara & Magrietjies” wat op 18 September 2019 by die TLU SA gebou plaasvind verloop goed en sal diegene wat daar plek wil bespreek dit vinnig moet afhandel.  Ons sprekers sluit in o.a. Lindie Strydom, JJ Janse van Rensburg van Garden World en ‘n span van die Glam Guru.  Onthou slegs 65 dames kan geakkommodeer word.  Dankie aan Old Mutual Insure Agri wat weer in hul begroting voorsiening gemaak het vir die geleentheid.

In die verlede is kongresgangers pertinent versoek om hulle vuurwapens te alle tye bedek.  Die WNNR is ‘n wapenvrye sone en wapens sal wel by die hek ingehandig moet word. ‘n Volledige hanteringskode is vanaf die WNNR ontvang en is op aanvraag beskikbaar. Dit behels o.a. dat ‘n wapeneienaar by die ingang sy wapen moet inhandig, ‘n geldige lisensie moet toon, ‘n register voltooi moet word wat deur beide die eienaar en sekuriteitsbeampte onderteken moet word. Die naam van die eienaar, datum en tyd van inhandiging, vuurwapen lisensienommer, maak en kaliber van die wapen, serienommer van wapen, kluisnommer ens. sal ook afgeneem word.

Die sluitingsdatum vir alle inskrywings is Vrydag, 2 Augustus 2019.

Diegene wat nog nie geregistreer het nie, word vriendelik versoek om dit so spoedig moontlik af te handel!

Vir enige navrae kontak asb. Lynne by tel. (012) 804-8031 of register@tlu.co.za.

SAMEWERKING & GELEENTHEDE

Sensus van kommersiële landbou

Plaasbesoeke aan eenhede of ondernemings wat die ‘besoek’-opsie gekies het, het op 10 Junie 2019 ‘n aanvang geneem. Aangesien boerdery-eenhede wat die ‘selftelling’-opsie gekies het, ook besoek sal word, moet boere asseblief die ingevulde vraelyste dringend aan ons terugbesorg voor die besoekdatum.

Ons dataversamelaars (Stats SA-beamptes) sal in Stats SA-gemerkte voertuie vervoer word, en hulle sal identifiseerbaar wees deur items soos ID-kaartjies, sakke, kepse en beffies, waarvan almal die Stats SA-logo sal vertoon

Vir enige navrae of reëlings, moet boere Stats SA asseblief skakel op tolvrye nommer 0800 212 169 of ‘n e-pos stuur na Agriculture@statssa.gov.za

Let asseblief daarop dat deelname aan die sensus verpligtend is vir alle boerdery-eenhede (artikel 16 van die Wet op Statistieke, 1999, Wet No. 6 van 1999) en versuim om te voldoen aan die versoek om inligting te verskaf, is ‘n misdryf wat strafbaar is deur die wet (artikel 18 van voorgenoemde Wet)

Die ingevulde vraelys word as streng vertroulik deur Stats SA hanteer (artikel 17 van voorgenoemde Wet). Geen individuele besigheidsinligting mag ooit bekend gemaak word nie. Resultate word slegs in ‘n saamgestelde formaat uitgegee.

Ons bedank u lede wat alreeds hul hekke vir ons oopgemaak en aan die sensus deelgeneem het.

 

Finansiële Welstand Lessenaar

Ons het ons sterk uitgespreek oor die beoogde belegging van pensioenkapitaal in vaste bates.

Kobus Oberholster, die Hoof van TLU SA se Finansiële Welstandslessenaar  het gesê dat ons nie kan stilsit en toelaat dat ons mense se hardverdiende pensioen, wat oor dekades opgebou is, ook nou in die bodemlose putte genaamd Eskom, SAL, PRASA, Denel en andere gestort word nie.

TLU SA sal daadwerklik optree om met weldeurdagte beplanning sy lede te help om verliese en skade op hierdie wyse te beperk. Aangesien elke individu se omstandighede uniek is en een benadering nie algemeen geldend kan wees nie, moet individuele lede in gesprek tree met die Welstandslessenaar by TLU SA ten einde die nodige inligting te kan ontvang om hulle betyds reg te posisioneer.

Kontak Kobus by 082 330 8607 of stuur ‘n e-pos aan kobus@attooh.co.za

 

Kragdag - 8 tot 10 Augustus

TLU SA is hierdie jaar deel van die Landbou Ekspo by Kragdag 2019 wat by Diamantvallei langs Kleinfontein oos van Pretoria aangebied word. Lesings, uitstallings en stalletjies by die dosyne! Daar sal iets vir elkeen in die gesin wees om te doen. Meer besonderhede sal in Mei versend word. As jy graag ‘n spesifieke landbou uitstaller daar wil besoek, stuur gerus vir Lynette by 012 804 8031 die besonderhede sodat hulle genooi kan word om uit te stal.

Uitstallers kan registreer by http://www.kragdag.co.za/.

Besoekers kan ook reeds aanlyn registreer om die dag gratis by te woon.

 

LWO Werkgewersorganisasie

Daar is ‘n werklike behoefte onder boere as werkgewers om deurlopend aan arbeidswetgewing te voldoen. TLU SA het ‘n samewerkingsooreenkoms met die LWO Werkgewersorganisasie gesluit ten einde ‘n praktiese en koste-effektiewe oplossing vir lede te bied. Om aan wetgewing te voldoen is nie onderhandelbaar nie en dit kan ernstige gevolge inhou vir jou boerdery. Die LWO is in die posisie om hierdie besigheidsrisiko koste-effektief en op ‘n professionele wyse namens lede aan te pak.

Die samewerkingsooreenkoms behels dat TLU SA ‘n R500-verwysingskommissie verdien wanneer TLU SA-lede by die LWO aansluit. Die voordeel is tweeledig deurdat dit die boer se besigheid beskerm, maar ook bydra om TLU SA as organisasie te versterk.

Kostes van LWO lidmaatskap is soos volg:

  •  Eenmalige aansluitingsfooi van R2 536 (BTW ingesluit). Indien die lid deur TLU SA se belsentrum aansluit, geld ‘n 12,5% korting en die bedrag betaalbaar beloop dan R2 219.
  • Jaarlikse lidmaatskapfooi wat ook maandeliks betaalbaar is (kostes afhangende van keuse van lidmaatskap pakket)
 
VELDTOGTE
#SOS

Die Suid-Afrikaanse regering beur voort met hulle pogings om die land se grondwet te verander sodat grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind. Die bedreiging tot privaat besitreg sal ‘n noodlottige effek op die Suid-Afrikaanse regering hê.

Met TLU SA se #SOS-veldtog stuur ons ‘n noodsein aan die buiteland, wat hulle versoek om standpunt in te neem teen die grondwetwysiging en die Suid-Afrikaanse regering te waarsku om nie met die kortsigtige plan voort te gaan nie.

Jy kan help!

Deur jou kontakbesonderhede in te vul, stuur jy ‘n SOS aan verskeie buitelandse leiers, ambassadeurs en invloedryke rolspelers.

#BLF

Die BLF, onder leiding van Andile Mngxitama, gaan steeds voort met opruiende uitsprake oor grondonteiening en geweld teenoor wit boere.

Jy kan steeds ons veldtog ondersteun deur hierdie petisie te onderteken sodat hy vervolg moet word vir sy uitsprake rakende die moord op wit kinders en vroue.