pitkos header
Plaas press@tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Maart 2019
WAT GEBEUR BY TLU SA

Nuwe Landbou Organisasie – SAAI
Eenheid in landbou was 'n aspek wat die afgelope jare ‘n groot besprekingspunt was, en boere wou weet hoekom daar nie eenheid in landbou is nie. Hoekom is daar meer as een organisasie. TLU SA het indringende gesprekke gehad met Dr de Jager oor die onderwerp. Hy het besluit om 'n nuwe organisasie te stig. Dit is sy reg en TLU SA respekteer dit. Die vraag oor eenheid in landbou moet nou deur hom beantwoord word.

TLU SA bevestig dat daar met SAAI saamgewerk sal word vir 'n beter bedeling vir boere.

Droogte en laat reëns
Suid-Afrika gaan gebuk onder 'n uitmergelende droogte wat in groot dele van die land sy tol begin eis het.  Daar het wel op 'n laat stadium reën begin val in die westelike deel van ons land en het boere daar wel voortgegaan om te plant. Kom ons vertrou dat die koms van die winter vir hierdie boere geleentheid sal gee om nog te kan stroop.  In groot dele is dit steeds uiters droog en sukkel die boere om voeding vir hul diere te kry.  TLU SA wil graag vir donateurs wat vir ons van tyd tot tyd bydraes maak vir ons Traumafonds waaruit hulp vir boere in nood gegee word.   Ons het onlangs van 'n anonieme donateur 'n ruim bedrag ontvang wat ons kon aanwend om vir boere in die Beaufort-Wes omgewing wat al voedselnood vir hulself en hul werkers ervaar, te kon help.  Ons wil graag daarop wys dat ons Traumafonds geregistreer is as 'n Art 18 A instelling wat beteken dat donateurs wat bydraes maak belastingvoordele kry.  Kontak gerus vir Ute by fin@tlu.co.za om meer besonderhede te kry.

Volhoubaarheid van landbou
TLU SA se konferensie wat op 7 Desember gehou was rakende die volhoubaarheid van landbou het verskeie aksies aan die gang gesit.  Daar word tans deur werkgroepe gekyk na 'n ander benadering wat gevolg behoort te word om seker te maak dat landbou sal lewe. 

Daar sal mettertyd meer inligting in die verband beskikbaar gemaak word.

Eskom en kraglewering
TLU SA het reeds in die verlede die negatiewe gevolge van beurtkrag aan Eskom deurgegee.  Die prys wat Suid-Afrika en ook die landbouers betaal is onaanvaarbaar.  Baie redes word opgediep, maar iewers moet ons eerlik raak oor die werklike rede.  Die prys van "affirmative action" het by Eskom soos by so baie ander plekke nou te duur geraak.  Ten einde 'n reuse onderneming soos Eskom effektief te kan bedryf verg 'n besondere kundigheid. Duidelik is daar 'n reuse gebrek aan die broodnodige kundigheid en dan is die omvang van korrupsie en selfverryking moeilik om te kan vasstel.  Daar is nie 'n manier wat die ekonomie sal kan groei solank hierdie stotterende kraglewering gaan voortduur.  Daar bestaan geen twyfel dat die huidige omstandighede waarin Eskom genoodsaak is om weereens beurtkrag toe te pas, verreikende gevolge vir sommige bedrywe inhou nie. Tydens ‘n voorligtingsessie by Megawattpark op 22 Januarie 2019, is hierdie toedrag van sake aan Eskom se senior bestuur oorgedra en het die bestuur aangedui dat vir die afsienbare toekoms daar nie energie-onderbrekings sou wees nie. Die werklikheid is egter anders. Terwyl die impak daarvan op velerlei produksieterreine ontwrigting gaan veroorsaak, het dit ook ‘n bepaalde uitwerking op veiligheidsmaatreëls. Lede word gevolglik gesensiteer om dit in ag te neem en waar moontlik alternatiewe te oorweeg en te implimenteer ten einde die vroegste moontlike waarskuwing van moontlike veiligheidsbedreigings te verseker.

Kommentaar: Wysiging van die Onteieningswet.            
TLU SA se reaksie mbt die voorgenome Wysiging van die Onteieningswet is in konsep opgestel en na afloop van die vergadering van die Ad Hoc Komitee op Eiendomsreg op 8 Februarie 2019 deur die UK goedgekeur. Benewens bepaalde voorbehoude betreffende die voorgestelde wysigings, is die Minister se aandag ook gevestig op die waarskynlike verbande met ‘n verskeidenheid ander wette, regulasies en handvesse wat op privaat besitreg impakteer. Die dokument is beskikbaar sou lede insae daarin wil hê.  Die aangeleentheid is nie tydens die pas afgelope Parlementsitting hanteer nie en sal dit eers tydens die volgende Parlement hanteer word. 

SAPD Landelike
Veiligheidstrategie
     
Die SAPD het beplan om die nuut-ontwikkelde Landelike Veiligheidstrategie te Lichtenburg op 15 Februarie 2019 bekend te stel, maar die nie-beskikbaarheid van die Minister van Polisie, het die uitstel daarvan tot ‘n latere datum genoodsaak. Met die nuwe strategie is bepaalde aanpassings ook gemaak ten opsigte van die NLVS wat ‘n jaar gelede deur ASUF goedgekeur was maar wat tans waarskynlik net binne TLU SA geledere bevorder word. Ooreenkomstig die nuutste aanpassings is daar twee kwessies wat met die SAPD opgeneem was en waarop terugvoer afgewag word, nl:

  • ‘n ”Landbou-vriendelike” SAPD Reservistestelsel.
  • Die benutting van die bestaande GPF struktuur op SAPD stasievlak as die forum waarop die voorgestelde funksies gekoördineer kan word tyerwyl ‘n duidelike onderskeid tussen stedelike-, buite-stedelike en landbougebiede getref moet word.

Samewerkingsooreenkomste
Tans het TLU SA formele samewerkingsooreenkomste met die Solidariteitsbeweging, AfriForum en SAPTU terwyl ‘n vierde konsep ooreenkoms met AfriForum Trauma gefinaliseer moet word. Hierdie ooreenkomste het ten doel om op die strategiese vlak belyning met strewes moontlik te maak en wedersydse ondersteuning en samewerking te fasiliteer. Benewens dit, skep dit ‘n platvorm wat benut kan word om verskille te besleg sonder om uitkomste in te boet.

Die Landbouer en die waardeketting
Die omstandighede waaronder ons boere gebuk gaan om winsgewend te kan wees het die laaste aantal jare redelik versleg.  Verblydend is die vele inisiatiewe wat ervaar word waar daar met besondere vindingrykheid planne gemaak word om steeds in produksie te kan bly.  Boere moet met hul finansierders deurlopend 'n besondere verbintenis handhaaf.  Sodra daar om welke rede ookal finansiële druk ervaar word is dit die regte plek om te gaan aanklop om gesamentlik 'n besigheidsplan uit te werk ten einde die beste geleenthede te skep om volhoubaar te kan voort boer.

VELDTOGTE
BLF

BLF

“Ons is almal besorg. Almal in Suid-Afrika is.”

Met hierdie woorde het Me Makete van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Dinsdagoggend ‘n memorandum van TLU SA ontvang by die NVG se hoofkantoor in Silverton, Pretoria.

Lees die volledige verklaring hier

Eskom

eskom

TLU SA is van mening dat die tyd nou finaal aangebreek het vir die staat om Eskom te privatiseer. Die inkomste wat nou deur Eskom gegenereer word is nie eers genoeg om die bedryfskoste en rente op skuld te vereffen nie.

Dit is ‘n erge bedreiging vir die land se ekonomie en die kans is baie groot dat Moody’s Investors Service Suid-Afrika binnekort as gevolg van hierdie stand van sake tot rommelstatus gaan afgradeer. “Die enigste oplossing is nou om Eskom te privatiseer,” sê Louis Meintjies, die President van TLU SA.

Steun die petisie hier Klik hier

Konsentrasiekampe

Konsentrasiekampe

Jacob Rees-Mogg, ‘n vooraanstaande lid van die Britse Konserwatiewe party en Parlement, het vroeër die jaar die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902) as “plekke van veiligheid” vir Suid-Afrikaanse vroue en kinders beskryf, tydens ‘n regstreekse onderhoud op die BBC se Question Time

Lees die volledige verklaring hier

NUUS UIT DIE STREKE
TLU SA Oos-Streek

Mpumalanga is vergelyking met ander streke is nie so hard deur droogte geslaan en die mielies en sojas op die Hoeveld lyk goed. Daar was baie haelskade in plekke soos Middelburg, Amersfoort en Hendrina en Middelburg. Goeie oeste word verwag in meeste dele.

Vendusies met lewende hawe word steeds goed ondersteun wat n aanduiding is van die getalle verhandelbare vee in die mark/ Veediefstal bly egter n probleem maar word deurentyd gehnateer. Groot verbetering met n nuwe bevelvoerder in Nelspruit wat in samewerking met Boere spesiale operasies loods. Chrissiesmeer omgewing in Kersseisoen minste veediefstal in jare gehad. Daar is egter nog brak kolle wat verbeter sal moet word.

Grondeise begin weer uit te kom na n lang stilte en kan aan verkiesing toegeskryf word. Vele probleme kom voor met plaasbewoners, huurarbeiders en rondloper vee op plase. Die gedrag van Esta bewoners bring meer probleme as voorheen en dit kan toegeskryf word aan polities geinspireerde aktiwiteite veral van die EFF se kant.

Daar is n probleem met die paaie infrastruktuur in die Provinsie. Daar is nie samewerking van die Provinsiale owerheid maar daar word aann gewerk. Die paaie department is hoofsaaklik dat hul fondse gekanibaliseer word deur ander Departemente end at die volle begroting nie altyd beskikbaar is. Dit is n politieke probleem,

Nie teenstaande bg is daar goeie skakeling  na die Premier se kantoor. Grondsake se samewerking is steeds goed en almal besef dat mediasie die antwoord is vir duur uitgerekte regsaksies.

TLU SA OOS Streek se dagbestuur het die jaar reeds 2 keer vergader en goeie insette vloei hieruit voort. Daar is besluit op die benadering van effektiewe BV strukture, die intrek van jongboere en die beginsel dat Boer vroue deel van landbou unie se strukture word. Die Streekvoorsitter en Streekbestuurder het reeds 3 keer BV vergaderings bygewoon ten einde die boodskap uit te dra. BV vergader gereeld en vergaderings word goed bygewoon.

Misdaad op plase vind steeds plaas en skep groot onsekerheid en skade vir Boere. Saad, kunsmis, vee en landbou toerusting word geteiken. Baie Boere se skerheid is nie op standard nie en daar is wat nog glo dat niks met hul sal gebeur nie. Sien ook plaasaanval statistiek.

boer
WAT ONS LEES

boervrou

Die Boerevrou was die eerste Afrikaanse vrouetydskrif. Dit is van Maart 1919 tot Desember 1931 in Pretoria onder die redakteurskap van die eienares, Mabel Malherbe, uitgegee. Die tydskrif was baie gewild onder haar lesers en is dwarsoor Suid-Afrika gelees, en is selfs ook ver buite die land se grense versprei. Vandag kan Die Boerevrou bestempel word as ‘n ryk skat van inligting oor die Afrikanervrou en haar leefwyse in die vroeë 20ste eeu. Jeanette van Rensburg het met ‘n doktorale studie in kultuurgeskiedenis bevind dat dit verteenwoordigend was van die historiese lesers en ‘n beduidende groep Afrikaanse vrouens se lewensuitkyk en daaglikse lief en leed weerspieël het.

Van Rensburg is die outeur en uitgewer van Die Boerevrou Gedenkboek 2019 wat Woensdag, 27 Februarie by die Afrikaanse Protestantse Akademie vrygestel is, waar sy geskiedenis doseer. Dit is ‘n tydskrif-boek, ‘n geskiedenisboek met die gevoel van ‘n moderne tydskrif, omdat dit nie net die eerste Afrikaanse vrouetydskrif herdenk nie, maar ook die ontwikkeling van die vrouetydskrifwese in die algemeen. Dit vertel vandag, na 100 jaar, die aangrypende verhaal van hoe die vrouens van ‘n volk opgestaan het na ‘n verpletterende oorlog en deur ‘n tydskrif, gewy aan hul belange in hul eie taal, in aanraking met die buitewêreld gebring is. Met die Gedenkboek neem Van Rensburg die leser op ‘n reis deur die huise en harte van ons Afrikaanse oumagrootjies, wat self nie meer hier is om hulle eie storie te vertel nie.

Die Boerevrou Gedenkboek 2019 is by uitgesoekte winkels beskikbaar of kan op hulle webblad bestel word.  Meld net dat jul verwysing TLU SA is.   Bestellings kan ook by TLU SA (hb@tlu.co.za) geplaas word en kan die boeke dan by die HK afgehaal word.

Het as man die boek uiters interessant gevind om ‘n stukkie van ons trotse geskiedenis weer lewendig in ons huise te kon ervaar. 

ADVERTENSIE

Mnr Kerneels van der Merwe wat landbou gaan staak bied plase, trekkers, implemente en ander toerusting waarvan sekere items so goed soos nuut is aan vir ernstige kopers.

Hy is geleë in die Roedtan distrik op die Springbokvlakte.

Belangstellendes kan hom gerus kontak by 0824942056 of e-pos by: cjvrystaat@icloud.com of vrystaat@knersvlaktes.co.za of kerneels@knersvlaktes.co.za

toerusting