proagri

Mediavrystelling: TLU SA oorhandig memorandum aan NVG oor vervolging van Andile Mngxitama

“Ons is almal besorg. Almal in Suid-Afrika is.”

Met hierdie woorde het Me Makete van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Dinsdagoggend ‘n memorandum van TLU SA ontvang by die NVG se hoofkantoor in Silverton, Pretoria.

WhatsApp Image 2019 04 02 at 18.07.14

Die memorandum handel oor die gewraakte en opswepende woorde wat Andile Mngxitama, die leier van Black First Land First (BLF) reeds in Desember by ‘n openbare saamtrek in Potchefstroom kwytgeraak het.

“Dié soort haatspraak wat gedurig uit sy mond kom is uiters opswepend en is dikwels die vonk in die kruitvat wat lei tot gewelddadige aanvalle en selfs moord op plase,” sê Mnr Louis Meintjies, die President van TLU SA.

TLU SA het op 11 Desember 2018 ‘n klag van haatspraak teen Mngxitama by die polisie gelê. Hy het die vorige dag in Potchefstroom, Noordwes tydens ‘n openbare byeenkoms voor ‘n groot gehoor gedreig om vyf wit mense dood te maak vir elke een swart persoon wat doodgemaak word. Hy het voortgegaan om vroue en kinders te dreig: “We will kill their children, we will kill their women, we will kill anything we find on our way”.

“Ons het tot dusver nog geen terugvoer gekry oor waar die saak staan nie,” sê Mnr Meintjies. “Na verskeie oproepe en e-posse het ons op 26 Februarie per hand ‘n brief afgelewer by die NVG se kantore. Ontvangs daarvan is deur Adv. E Matzke namens die Adjunk-Direkteur van Openbare Vervolging erken en sy het onderneem om ‘binne twee dae’ terugvoer te gee. Ons het nogsteeds niks gehoor nie.”

Makete was besorg oor hoekom daar nog geen terugvoer aan TLU SA gegee is oor die vordering van die saak nie. Sy het haar voorgeneem om dit dringend met die belanghebbendes op te volg. Sy het ook ‘n petisie met die name van 30 886 mense wat hierdie aksie van TLU SA ondersteun, erken.

“Ons is bly om te hoor dat die NVG self bekommerd is oor die dreigemente wat mense soos Mngxitama en Julius Malema maak teenoor wit Suid-Afrikaners,” sê Mnr Meintjies. “Ons vertrou dat daar nou binnekort uitsluitsel gegee sal word oor of Mngxitama vervolg sal word of nie.

TLU SA doen weer ‘n dringende beroep op die NVG se Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging: Adv. Shamila Batohi, om Mngxitama wel te vervolg.

Taal/Language