Plaas info@emails.tlu.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
September 2023  
 

VAN DIE BESTUUR

 

OP HENRY SE HART

Die nuwe plantseisoen het pas vir baie van ons lede afgeskop en lê nou voor vir ander. My wens is dat elkeen van ons lede ‘n voorspoedige plantseisoen sonder teëspoed sal beleef. Hoë insetkostes speel ‘n groot rol, veral met dieselprys wat gereeld gestyg het. Ek hoop dat ons saaiboere genoeg reën sal kry en geseën sal wees met suksesvolle oeste. Daar is sprake van moontlike droogte in die najaar wat beteken lede moet voldoende navorsing doen en vroegtydig plant.

 

BOODSKAP VAN BENNIE

TLU SA en Saai het hande gevat om gesamentlik mondelingse kommentaar voor die Portefeuljekomitee in die Parlement te lewer oor die Onteieningswet – met spesifieke fokus op die konsep van onteiening sonder vergoeding wat daarbinne vervat is. Dr. Theo de Jager het die gesamentlike kommentaar by die Parlement ingedra. TLU SA en Saai se onderskeie ledegetalle verteenwoordig gesamentlik die meerderheid kommersiële boere in Suid-Afrika.

 

STANDPUNTE

 

TLU SA Kongres 2023 identifiseer uitdagings en skep oplossings

“Identifiseer die probleem, noem dit by die naam en vind die oplossings.” Die hoofbestuurder van TLU SA, Bennie van Zyl, sê dit was opvallend deurentyd die boodskap van sprekers by TLU SA se 2023 Kongres wat op 6 September by die Voortrekkermonument aangebied is. Dit is die eerste kongres sedert die inperking wat weer op die tradisionele skaal aangebied is, en sowat 200 afgevaardigdes het die geleentheid bygewoon.

 

ONDERSTEUN ONS

 

Goliat van Gat 2024 – 20ste Kompetisie

 

Die organiseerders – Cullinan Boere-unie (TLU SA) – van die jaarlikse Goliat van Gat-kompetisie is hoopvol dat volgende jaar se wenpampoen by een ton sal uitkom. Die kweekseisoen vir volgende jaar se kompetisie is nou in volle swang.

Daar is nog geleentheid om in te skryf en pitte te bestel vir die seisoen en kompetisie.

Navrae kan gerig word aan Henri Combrink by 082 552 9428 of culliboer@gmail.com of aan TLU SA se hoofkantoor by 012 804 8031.

Lees meer hier.

 

ONS DOEN SELF

 

Wenners van spesiale trofees by die TLU SA Kongres

By die jaarlikse TLU SA Kongres word trofees aan amptenare, streke, kantore en rolspelers oorhandig vir unieke bydraes op verskeie vlakke van landbou en in die TLU SA geledere. Tydens 2023 het die volgende wenners met hierdie spesiale toekennings weggestap:

  • Goliat van Gat Trofee: Wykus Lambprecht van Meyerton Pretoria
  • Kiepersol Trofee: Balfour Boere-unie
  • TLU SA/LWO Skild: Bufland Boerdery
  • Charles Baber Trofee: Sukerbos Boere-unie
  • Willie Marais Trofee: De Wildt Boerevereniging
  • Veiligheidstrofee: Cecelia Beukes van Ermelo Distriks Landbou Unie
  • Presidentstrofee vir Jongboerbetrokkenheid: Danie Bester van Balfour Boere-unie
  • Commondale Trofee: Roedtan-Suid Boerevereniging
  • RP Camphor Beker: Balfour Boere-unie
  • Intfin Skild: Renita Prinsloo van Potgietersrus DLU
  • Isaac Greenberg Trofee: TLU SA Sentraal streek
  • Nico Kilian Trofee: Erika Helm

TLU SA Jongboer Gholfdag ten bate van TLU SA Traumafonds

Dit was vir TLU SA 'n groot voorreg om te sien hoe organisasies die TLU SA Jongboere Gholfdag op 22 September by Silverlakes in Pretoria ondersteun het. Dié gholfdag is ten bate van die TLU SA Traumafondse aangebied en was ‘n reuse sukses vir almal teenwoordig.

Clemens Senekal, voorsitter van die TLU SA se Jongboerkomitee, sê die gholfdag was ‘n baie opwindende en lekker dag vir al die spelers en almal wat die gholfdag bygewoon het. “Ons het ‘n goeie hupstoot gekry vir die traumafondse – ‘n volle R140 000 ingesamel, wat vir die traumafondse geskenk sal word. Dit beteken ongelooflik baie vir ons om daardie bydrae te kan lewer.”

“Ek wil net dankie sê aan almal wat daardie dag betrokke was, diegene wat nie daar kon wees nie en ook aan die wat saam gekuier het. TLU SA gaan volgende jaar groter en beter gaan,” sluit Senekal af.

Kyk uit vir Jongboere in jou gemeenskap. Hou jou oë en jou ore op die grond vir Jongboer-reëlings en raak deel van die Jongboer-gemeenskap. Help ons om fondse vir die traumafondse in te samel. Met die baie brande wat as gevolg van die hitte en droogtes in ons land uitbreek, is dit natuurlik vir ‘n baie goeie doel.

 

Nampo Kaap

Hier is ‘n paar foto’s van TLU SA by Nampo Kaap. Dit was ‘n groot voorreg!

Majuba 2024

TLU SA se Uitvoerende Komitee het besluit om tesame met die Majuba Trust volgende jaar se Majubafees einde Februarie 2024 as gasheer-organisasie aan te bied.  Dit is vir ons ‘n gulde geleentheid om ons verbintenis in ons Manifes oor ons erfenis te help beslag gee. 

Ons wil dit nou reeds dit onder die aandag bring, so ook die feit dat ons baie hulp gaan nodig hê om al die take sinvol te kan uitvoer. Elke streekvoorsitter het volle besonderhede oor watter take verrig moet word.  Ons benodig vier persone wat tesame met die lede van die Majuba Trust op die Fees se loodskomitee kan dien.

Hierdie persone moet bereid wees om nou reeds in te klim en te help met al die beplanning.  Indien daar van ons lede is wat hierdie saak wil ondersteun deur hul gewig hier te kom ingooi, sal dit waardeer word.

Verwittig ons asseblief per e-pos na hb@tlu.co.za of ‘n WhatsApp-boodskap na 082 466 4470. Hoe meer persone (mans en dames) hul hand opsteek om te help, hoe makliker sal dit wees vir almal.

Ons verneem graag van elkeen in die verband.

 

LANDBOUSPORE

Op Landbouspore tree TLU SA gereeld in gesprek met verskeie rolspelers wat bydra om boere volhoubaar op hulle grond te hou. Ons het vandeesmaand gesels met:

Vorige opnames is beskikbaar op die YouTube-kanaal en ook op die webwerf.

 

Krugergenootskap

 

Die Krugergenootskap nooi enige belangstellende persone om op 10 Oktober 2023 aan die Krugerdagvieringe deel te neem. Die verrigtinge begin om 14:00 by die Heldeakker in Pretoria.

Registreer by hierdie skakel
 

Lig in Duisternis Uitgewers

 

As landbouorganisasie is TLU SA baie bewus daarvan dat die stryd waarin ons hier in Suid-Afrika gewikkel is, nie ’n stryd is wat ons net op ons eie kan stry nie. Die aanslae wat ons mense beleef, is nie beperk tot ’n enkele front of twee nie. As landbouorganisasie wat weet hoe afhanklik ons van ons hemelse Vader is, besef ons dat die geestelike aanslag dikwels groter as die fisiese aanslae en uitdagings is wat ons elke dag beleef. Dit is nodig dat ons mense nie net paraat en gereed moet wees om hulself te verdedig wanneer dit by plaasveiligheid kom nie, maar dat hulle ook geestelik toegerus is om staande te bly wanneer die ideologiese winde dreig om hulle soos die golwe van die see heen en weer rond te slinger. Ons het ’n stewige fondasie nodig.

Om hierdie rede is TLU SA dankbaar om met Lig in Duisternis Uitgewers hande te vat. Ons deel dieselfde lewens- en wêreldbeskouing en daarom wil ons graag ons lede aanmoedig om met vrymoedigheid hul leesstof by hierdie uitgewery aan te skaf. Dit is ’n uitgewery wat fokus op die daarstelling van Bybelsgetroue en ander behoudende Afrikaanse literatuur. Vir elke aankoop op hulle webblad, is daar ’n geleentheid om ’n R10-skenking aan TLU SA te maak. Ondersteun hulle gerus by www.liginduisternis.co.za

 

AANKONDIGINGS

 

Groete aan Lynne Liebenberg

‘n Woord van dank teenoor Lynne Liebenberg wat na ‘n tydperk van 27 jaar haar pos by TLU SA Hoofkantoor verlaat het. Lynne het oor die 27 jaar ‘n waardvolle rol by TLU SA gespeel in terme van beleidsake, koordinering van beleidsaangeleenthede en reëlings van die kongres en vele ander aangeleenthede. Ons wens vir Lynne voorspoed op haar lewenspad vorentoe.

Staatskoerant | September 2023

Dit is vir TLU SA belangrik dat lede so ingelig is as moontlik is oor wat in die land aangaan. Daarom deel ons van nou af artikels – met betrekking tot landbou en ons boere – wat vir verwysing in die Staatskoerant gepubliseer is.

 

Nuus uit die Oos- en Natalstreke

Veldbrande
Gedurende September het Suid-Afrikaanse boere landswyd onder veldbrande deurgeloop. Duisende hektare weiding het in die slag gebly wat ‘n groot terugslag is en miljoene rande se kos vir diere beteken.  Dit was wonderlik om te sien hoe boere van oral hulp ontvang en nie moed opgegee het nie. Dit sal nie heeltemal moontlik wees om presiese waarde te koppel aan die ekonomiese verliese wat gelei is nie. Ten spyte van genoegsame voorbrande, was die vure in sommige gevalle net te erg dat selfs die voorbrande geen impak gehad het nie. 

Onwettige jag met honde en ander verwante misdade
Op 29 September 2023 is ‘n vergadering belê te Eermelo Landbousaal waar boere onder andere toegelig was deur MTPA, Nasionale Dierebeskermingsvereniging en die Nasionale Vervolgingsgesag. Boere word landswyd geaffekteer deur die onwettige jag met honde, betreding, en opsetlike saakbeskadiging. Daar is gewoonlik ook ander verwante misdade wat tydens hierdie jagtogte gepleeg word.  Die vergadering is deur ongeveer 100 boere bygewoon. Waardevolle inligting is ontvang en sprekers uit die genoemde partye het duidelike simpatie met boere se bekommernisse rondom hierdie probleem getoon.  Die organisasies het hul samewerking beloof vir boere wat deur onwettige jag met honde uitgedaag word.   Ons doen ‘n beroep op ons lede om hulself te bemagtig ten opsigte van hul optrede tydens hierdie misdade. Opvolg vergaderings gaan plaasvind.

 

Nuus uit die Vrystaat Streek

TLU Vrystaat Streek het met die LUR van die departement van polisie, paaie en vervoer vergader oor die haaglike padtoestande in die provinsie. Daar word dringend gekyk na moontlike oplossings en die TLU SA-bestuur in die Vrystaat sal op hoogte gehou word van enige aksies wat geloods word. Daar sal op gereelde basis gesprekvoering plaasvind in hierdie verband.

Reuse areas se vee en weiding is vernietig in brande wat oor die hele Vrystaat gewoed het. Enige persone wat 'n voerskenking wil maak, kontak die Streeksbestuurder, Jannie Raath, by 079 246 0013.

Sterkte vir die boere wat voorbereidings begin tref het vir die plantseisoen.

 

Dieregesondheid

Op 28 September was dit Wêreld Hondsdolheiddag. Hondsdolheid hou 'n wesenlike gevaar vir lewendehawe en mense in. Besmetting word veral deur jakkalse, maar ook deur ander diere soos honde, oorgedra.

Om besmettingrisiko's te verminder moet honde elke jaar  teen hondsdolheid ingeënt word. Dit bied dan die nodige beskerming vir mense om hierdie dodelike siekte vry te spring.

Wees bedag op enige wilde diere wat mak of agressief voorkom en moet geen diere langs die pad oplaai nie. Verhoed ook om tydens vakansie met honde oor provinsiale grense te ry.

Hondsdolheid veroorsaak malkoeisiekte by beeste en word veral oor kalftyd oorgedra wanneer jakkalse agter die nageboortes en klein kalfies aan is. Koeie wat kalwers beskerm, word dan gebyt en sodoende besmet. Siektetekens by beeste is speeksel wat by die mond uitloop en koeie wat mal voorkom.

Diere met hierdie simptome moet geensins aangeraak word nie en jou naaste staatsveearts moet dadelik gekontak word.

Natal en Noordwes is van die provinsies wat jaarliks die ergste deur hondsdolheid geraak word en boere kan met hulle staatsveeartse kontak maak om sodoende ook die beeste voorkomend in te ent.

 

KONGRESBORGE

 

Diamant

 

Hatfield Motor Groep

Manitou

 

Pretoria FM

Santam Landbou

 

Winfield

 
 

Platinum

 

Hollard

NWK

SAVPO/SAPPO

 

goud

 

absa

Impac Cropsure

Nedbank