pitkos header
Plaas mediatlu@gmail.com in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang.
Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie kyk na die aanlyn-weergawe.
Junie 2019
WAT GEBEUR BY TLU SA

Belangrik om te weet

Nuwe beeld en toekomsvisie

tluSA

Tegnologie het die manier van kommunikeer heeltemal verander. Met ‘n groeiende belangstelling van veral jonger boere en ondersteuners wat nie boere is nie, in TLU SA, is besluit om die handelsmerk en aanslag te vernuwe en ‘n groter digitale teenwoordigheid te skep deur middel van ‘n nuwe, gebruikersvriendelike webwerf en deelname op die grootste sosiale media platforms. Dit is op 10 Junie bekendgestel.

Besoek ons sosiale media platforms:

fb fb fb fb

Onteiening sonder vergoeding
Die verkiesing is verby en ons is grootliks in die dieselfde posisie as wat ons was voor die verkiesing. Die ANC is steeds in beheer, en saam met die EFF het hulle gesamentlik ‘n twee-derde meerderheid in die parlement. Die verbintenis wat die ANC tydens hulle 2017 Konferensie oor onteiening sonder vergoeding gemaak het, staan vas.
Wees waaksaam om nie die verduidelikings oor staatsgrond en dies meer as die waarheid te aanvaar en daarom nie bekommerd hoef te wees nie.

Indien die Grondwet so gewysig word dat die staat beslag kan lê op die bates van landsburgers sonder om daarvoor te betaal, sal die beginsel ook gebreek word.

Wat niemand kan voorsien nie, is hoe ‘n volgende regering(s) so ‘n grondwetlike mandaat sal bestuur, ten spyte van beloftes en verduidelikings wat nou gemaak word.
TLU SA staan vas by die beginsel dat privaat besitreg gerespekteer moet word en dat sodanige grondwetwysiging op geen wyse goedgekeur behoort te word nie. Geen lid van TLU SA het sy of haar grond gesteel nie.

Sekretaresse Pos
Runel Matthews, die Hoofbestuurder se sekretaresse het bedank en haar pos is reeds sedert 7 Junie vakant.
Graag wil ons vir haar ‘n woord van dank rig vir die bydrae wat sy die laaste vyf jaar vir TLU SA en sy lede gemaak het en haar baie sterkte toewens op haar pad vorentoe.

Enige belangstellendes kan tot voor 18 Junie aansoek doen vir hierdie pos. Stuur ‘n volledige CV na hb@tlu.co.za. Daar sal van die suksesvolle kandidaat verwag word om ‘n groot verantwoordelikheidsin te openbaar en ‘n sin vir dringendheid te hê. ’n Goeie administratiewe kundigheid en omvattende rekenaarvaardigheid is uiteraard van groot belang. Die salaris is onderhandelbaar en ‘n pensioenfonds sowel as ‘n mediese toelaag vir primêre gebruikers sal na ‘n proeftydperk van toepassing wees. Normale verlofvoordele geld. Kandidate moet hul ook vereenselwig met TLU SA se etos en karakter en goed in ‘n span kan saamwerk. Navrae kan gedoen word by Bennie van Zyl by 082 466 4470.

Komitees
Die UK het tydens hul laaste vergadering die belangrikheid van die onderskeie komitees opnuut beklemtoon. TLU SA se doel is om die kommersiële boere veilig en volhoubaar op hul grond te hou. Daar is verskeie aspekte wat vir boere afwisselend van elkeen se omstandighede ‘n invloed uitoefen op hul volhoubaarheid. Sonder om die indruk te skep dat dit die enigste aspekte is, word hierdie bedreigings aangespreek in ons komitees wat vir ons die navorsing doen. Ons streef na die beste uitkoms om ons boere te bemagtig met kennis.

Ons wil lede wat graag ook ‘n bydrae wil maak in komitee-verband uitnooi om die onderskeie komitees te kontak en betrokkenheid aan te bied.

  • Ekonomiese volhoubaarheidskomitee
    Voorsitter: Gawie van Rensburg 082 806 4825
    Sekretariaat: Gert Cruywagen 082 497 0386
  • Veiligheidskomitee
    Voorsitter: Henry Geldenhuys 083 560 1273  
    Sekretariaat: Chris van Zyl 072 716 9299
  • Eiendomsregkomitee
    Voorsitter: Henk van de Graaf  076 5633 800
    Sekretariaat: Danie du Plessis 082 929 3347
  • Watersake komitee
    Voorsitter:  Nog geen
    Sekretariaat: Drickus Botha 082 774 9287

Uitvoere na Belarus
Tydens ‘n diplomatieke funksie is ‘n konstruktiewe gesprek met die Ambassadeur van Belarus gevoer. Hulle het ‘n groot behoefte om groente en vrugte van ons land te kan invoer. Indien daar enige van ons lede is wat hierdie moontlikheid graag sal wil ondersoek is hulle welkom om ons Hoofbestuurder te kontak by hb@tlu.co.za.  

Verbruikers en waardeketting
TLU SA het oor verskeie jare heen uitgereik na die verbruikers as die laaste en baie belangrike skakel in die waardeketting. Dit is ons mark en die rede waarom ons kan produseer. Die verbruikers is aan die anderkant ook afhanklik van ons ten einde kos op die tafel te kan hê. Hierdie interafhanklikheid is ‘n aspek wat ons positief moet benut en daar is reeds gesprekke gevoer in die verband. Die verbruikers kan en moet ‘n positiewe drukgroep wees om seker te maak dat ons produserende kommersiële boere in produksie hou.

Volhoubaarheidskonferensie
TLU SA het sedert verlede Oktober met rolspelers in die waardeketting begin gesprek voer oor die risikoverspreiding in landbou sowel as die volhoubaarheid van die primêre landbou-produsente.

Tydens Nampo het ons opnuut besef dat al die rolspelers daar bymekaar is en die geleentheid het om besigheid te doen en dat dit toegeskryf kan word aan die winsgewende kommersiële boer se mark – die verbruiker.

Die laaste aantal jare het dinge soos rampe, beleidsonsekerheid, veiligheidstoestande en winsgewendheid al hoe meer druk op die volhoubaarheid van ons boere geplaas. Daar word gereeld gevra hoe die risiko in landbou gedra word.

‘n Boer moet sy plaas as kollateraal aanbied ten einde insetmiddele te kan finansier. Die ander rolspelers in die waardeketting kry hulle geld en indien daar ‘n misoes is moet die boer alleen die risiko dra. Die vraag wat al die rolspelers in die waardeketting hulself moet afvra is in hoe ‘n mate hulle sal kan voortgaan met hul besigheid indien die primêre produsente nie meer daar is nie.

Daar word wêreldwyd erkenning gegee aan ons boere as van die beste. Wat doen ons om seker te maak dat hierdie grootste bate waaroor ons land beskik wel in produksie gaan bly?

Vir die doel gaan daar op 16 Julie ‘n Volhoubaarheidskonferensie gehou word by TLU SA waarheen rolspelers in die waardeketting genooi word.
Tydens al die gesprekke is daar al heelwat voorstelle en gedagtes wat na vore gekom het. Ons het nie noodwendig al die antwoorde nie, maar is van oortuiging dat daar gesamentlik beter verskansings en benaderings vir volhoubaarheid ondersoek kan word ten einde landbou te laat leef.

SAMEWERKING & GELEENTHEDE

Nampo 2019

Ons wil graag ‘n woord van groot dank rig teenoor die Oosstreek wat vanjaar die Nampo-stalletjie ingerig het. Vir almal wat by die stalletjie kom help het ook ‘n groot dank.
Ons het baie waarde uit die stalletjie gekry met die dat heelwat besoekers ons petisie teen onteiening sonder vergoeding onderteken het. Ons het opnuut besef dat ons meer persone op ‘n gegewe moment by die stalletjie moet hê ten einde die waarde van die duisende voete wat verbybeweeg maksimaal te kan benut.

Van TLU SA se kant wil ons ook vir die Jongboerkomitee ‘n baie groot woord van dank rig vir die grootskerm slim-TV wat aan TLU SA geskenk is en wat gebruik kan word tydens uitstallings. Ons wil graag ook vir Gerhard Diederichs van Santam Agri in sy persoon bedank wat ook ruim bygedra het vir die stel.

Kragdag - 8 tot 10 Augustus

TLU SA is hierdie jaar deel van die Landbou Ekspo by Kragdag 2019 wat by Diamantvallei langs Kleinfontein oos van Pretoria aangebied word. Lesings, uitstallings en stalletjies by die dosyne! Daar sal iets vir elkeen in die gesin wees om te doen. As jy graag ‘n spesifieke landbou uitstaller daar wil besoek, stuur gerus vir Lynette by 012 804 8031 die besonderhede sodat hulle genooi kan word om uit te stal. Uitstallers kan registreer by kragdag.co.za. Besoekers kan ook reeds aanlyn registreer om die dag gratis by te woon.

LWO Werkgewersorganisasie

Daar is ‘n werklike behoefte onder boere as werkgewers om deurlopend aan arbeidswetgewing te voldoen. TLU SA het ‘n samewerkingsooreenkoms met die LWO Werkgewersorganisasie gesluit ten einde ‘n praktiese en koste-effektiewe oplossing vir lede te bied. Om aan wetgewing te voldoen is nie onderhandelbaar nie en dit kan ernstige gevolge inhou vir jou boerdery. Die LWO is in die posisie om hierdie besigheidsrisiko koste-effektief en op ‘n professionele wyse namens lede aan te pak.
Die samewerkingsooreenkoms behels dat TLU SA ‘n R500-verwysingskommissie verdien wanneer TLU SA-lede by die LWO aansluit. Die voordeel is tweeledig deurdat dit die boer se besigheid beskerm, maar ook bydra om TLU SA as organisasie te versterk.

Kostes van LWO lidmaatskap is soos volg:
  •  Eenmalige aansluitingsfooi van R2 536 (BTW ingesluit). Indien die lid deur TLU SA se belsentrum aansluit, geld ‘n 12,5% korting en die bedrag betaalbaar beloop dan R2 219.
  • Jaarlikse lidmaatskapfooi wat ook maandeliks betaalbaar is (kostes afhangende van keuse van lidmaatskap pakket)
NUUS UIT DIE STREKE

NOORDWES

nw

SAPD
Op Woensdag 22 Mei 2019 het indringende samesprekings plaasgevind tussen ‘n afvaardiging van TLU SA en Agri NW; die topbestuur van die kantore van die Nasionale en Provinsiale Kommissarisse van die SAPD.

Verskeie kritiese aspekte rakende Landbou misdaad is bespreek en die suksesvolle funksionering van die Landelike Veiligheidskomitee in die provinsie is veral beklemtoon.

‘n Aksieplan is uit die bespreking opgestel wat sal fokus op die volgende aspekte:

  • Diensverskaffing deur SAPD-lede;
  • Korrupsie in SAPD-geledere;
  • Optrede van SAPD-beamptes wanneer sake van misdaad aangemeld word, asook ondersoek word;
  • Die gebrek aan begrip vir landbouverwante misdade deur SAPD-lede; en
  • Kommunikasie tussen lede van die SAPD en die landbougemeenskap.

Daar is verder besluit dat die SAPD se Regsdienste-departement in Noordwes ‘n opleidingshandleiding vir alle stasiebevelvoerders sal ontwikkel, met bogenoemde aspekte as basis.

Soortgelyke samesprekings sal voortaan op ‘n gereelde basis plaasvind.

RPO
Op 29 Mei 2019 het die jaarlikse Kongres van die Noordwes RPO te Klerksdorp plaasgevind. Verskeie aspekte, krities belangrik vir die rooivleisbedryf, is deur kundige sprekers aangebied.

 
VEILIGHEID

Misdaad
Misdaad is in vele opsigte besig om by alle logiese perke verby te snel.

Die vlaag van plaasaanvalle en moorde ervaar ons daagliks, terwyl die plundering van oeste, veediefstal, diefstal van infrastruktuur en inset-middele ook aan die orde van die dag is.

Die beperkte vermoë van die SAPD wat van plek tot plek verskil, is landwyd ‘n groot knelpunt. Dit moet gemeld word dat daar SAPD-lede is wat uit hul pad gaan om misdaad te beveg soos moontlik. Daarvoor ‘n groot dank. Ongelukkig is die werklikheid dat daar wel plekke is waar die SAPD-lede nie hulle verantwoordelikheid nakom nie en selfs deel is van die probleem.

Ons moet as gemeenskappe positiewe druk toepas sodat diesulkes uit die SAPD verwyder kan word.
Oor tyd heen is baie goeie gemeenskapveiligheidsplanne beskikbaar gestel sodat ons onsself bemagtig om na ons eie veiligheid te kan kyk. Daarvoor is daar ook ‘n perk.
Suid-Afrika kort die politieke wil om hierdie saak behoorlik aan te spreek. President Ramaphosa het selfs in die VSA ontken dat daar plaasmoorde is en verder swyg hy soos die graf oor die misdaad in ons land. Hy behoort dit in die sterkste moontlike terme te veroordeel en dan ook toesien dat ‘n effektiewe SAPD-diens daargestel word wat beheer oor die misdaadsituasie kan neem.

Die dilemma is dat misdadigers se menseregte hulle amper onaantasbaar maak.

Intussen moet ons alles in ons vermoë doen om in alle opsigte na ons veiligheid te kan kyk. Skakel in by strukture en wees maksimaal paraat.

Die onvermoë van die staat om na die inwoners van die land se veiligheid, wat een van sy prioriteite moet wees, te kyk, gaan soos dinge lyk nog lank met ons wees. Derhalwe laat dit nie vir ons ‘n keuse nie – sal net eenvoudig self skouer aan die wiel moet sit.

VELDTOGTE
#SOS

Die Suid-Afrikaanse regering beur voort met hulle pogings om die land se grondwet te verander sodat grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind. Die bedreiging tot privaat besitreg sal ‘n noodlottige effek op die Suid-Afrikaanse regering hê.

Met TLU SA se #SOS-veldtog sal ons ‘n noodsein aan die buiteland stuur, wat hulle versoek om standpunt in te neem teen die grondwetwysiging en die Suid-Afrikaanse regering te waarsku om nie met die kortsigtige plan voort te gaan nie.

Jy kan help!

Deur jou kontakbesonderhede in te vul, stuur jy ‘n SOS aan verskeie buitelandse leiers, ambassadeurs en invloedryke rolspelers.

#BLF

Die BLF, onder leiding van Andile Mngxitama, gaan steeds voort met opruiende uitsprake oor grondonteiening en geweld teenoor wit boere.

Jy kan steeds ons veldtog ondersteun deur hierdie petisie te onderteken sodat hy vervolg moet word vir sy uitsprake rakende die moord op wit kinders en vroue.