Belangrik om te weet
Ons begronding
Ons ervaar deesdae al hoe meer dat persone en instansies in hierdie dae ‘n neutrale geloofsbegronding aanhang omdat ‘n openlike verbinding aan die Christelike geloof moontlik aanstoot kan gee. TLU SA wil dit onomwonde stel dat ons, soos dit ook in ons Grondwet en Manifes uiteengesit is, openlik erken waar ons krag en wysheid vandaan kom en derhalwe bely ons ons diepe afhanklikheid van God-Drie-enig soos geopenbaar in Sy Woord, die Bybel.
Nuwe lede en vriende
Graag wil ons 'n woord van groot dank rig teenoor die bemarkingspan en die belsentrum wat sedert die begin van die jaar reeds 1 300 nuwe lede en vriende van TLU SA vir ons gewerf het. Daar is groot waardering vir elke lid se bydrae en betrokkenheid. TLU SA sal alles binne ons vermoë doen om die beginsels wat nodig is om landbou te laat leef, te beskerm en uit te bou. Dit beteken dat ons verbind is tot ekonomiese korrektheid en nie politieke korrektheid nie.
Komitees rondom knelpunte
Dit is verblydend dat afgesien van die realistiese kommer wat boere oor hulle daaglikse aktiwiteite en toekomsverwagtinge het, ons meestal ‘n positiewe invalshoek bespeur wanneer informele gesprekke hieroor gevoer word. Veiligheid, ‘n onsekere beleidsomgewing wat veral vergestalt in uitsprake oor besitreg en ekonomiese volhoubaarheid is egter die belangrikste aspekte wat boere onrustig stem. Uiteraard is daar ook verskeie bydraende faktore wat inspeel op die genoemde knelpunte soos probleme rondom water en arbeidswetgewing. TLU SA het opnuut die komitees geaktiveer wat op daardie drie terreine handel. Enige lid wat reken dat hulle 'n konstruktiewe bydrae in 'n komitee kan maak, word versoek om na vore te tree om die bestaande komitees te verryk.
Werksverdeling van amptenary
In die afwesigheid van formele komitees vir die tradisionele dienste van TLU SA, is die beskikbare amptenare tydelik versoek om na hierdie funksies om te sien:
- Arbeid – Mev Lynette du Plessis
- Eiendomsreg – Mnr Danie du Plessis
- Water – Mnr Drickus Botha
- Plaaslike regering – Mnr Gert Cruywagen
Dit word in die onmiddellike vooruitsig gestel dat ampsdraers binnekort tot die ampte benoem en verkies sal word.
Droogtehulp
Droogtetoestande is steeds kritiek in dele van die land. Die moontlikheid om voer na droogtegeteisterde omgewings te vervoer, het onder ons aandag gekom. Indien daar van ons lede is wat voer beskikbaar het wat hulle graag wil skenk om mede-boere te help, sal ons dit baie waardeer. Kontak vir vir Runel by sekretaresse@tlu.co.za met die besonderhede van enige aanbod van voer.
Graanlewering
Daar is weereens versoeke gewees van lede wat graag wanneer hulle graan gaan lewer ook vir TLU SA graan wil lewer. Ons het groot dankbaarheid vir die projekte wat by verskeie affiliasies van stapel gestuur is ten einde op verskeie wyses finansiële ondersteuning aan TLU SA te verskaf. Ons wil graag weer die volgende plekke se leweringsnommers onder ons lede se aandag bring vir diegene wat, wanneer graan gelewer word, moontlik ook op TLU SA se nommer ook ‘n bydrae kan maak.
NWK : X170613TLU – dit geld by alle NWK leweringspunte
Afgri : 152622 TLU SA by enige Afgri silo
By voorbaat dankie aan elkeen wat sy weg oopsien om ook op hierdie wyse TLU SA te ondersteun.
Veiligheid
Veiligheidskomitee vergadering
Etlike belangrike kwessies is op 24 April 2019 deur die Veiligheidskomitee bespreek. Die Bevestigende Notas is na afloop van die vergadering tot die beskikking van streke gestel.
- Gesprek met die SAPD Nasionale Kommissaris op 2 Mei 2019;
- Geskeduleerde gesprek op 22 Mei met die Dagbestuur van AgriSA se Veiligheidskomitee;
- Veiligheidsvoorbereiding vir die verkiesing;
- Hantering van TLU SA se misdaadstatistiek;
- Moontlikheid van ‘n jaarlikse veiligheidskompetisie; en
- Ondersteuning van en bydraes vir die Pitkos, Veiligheidsbulletins en TLU SA Riglyne.
SAPD Nasionale Kommissaris
Tydens ‘n gesprek met die nasionale Kommissaris van die SAPD, Genl. Sitole en drie van sy adjunkte op 2 Mei 2019 het ‘n TLU SA-afvaardiging die rol wat binne veiligheidsverband deur affiliasies en lede gespeel word, verduidelik. Dit was duidelik dat hy aangenaam verras was met wat vir hom aangebied is. Die sukses van die gesprek word bevestig deur sy versoek dat daar oor drie maande weer vergader moet word om vordering op bepaalde terreine te evalueer. Bevestigende notas in hierdie verband sal binnekort aan die UK beskikbaar gestel word.
Veiligheidsdienste en -produkte
Mev Alta Povey hou ‘n opgawe van alle aanbiedinge van veiligheidsverwante produkte en dienste, by. Hierdie opsomming sal periodiek aan streke versprei word, maar is ook op aanvraag by haar beskikbaar. Kontak haar by 012 804 8031 of asseien@tlu.co.za.
Finansies & Tegnologie
Gesprekke met kredietverskaffers
Daar is, gegewe die omstandighede waaronder ons boere gebuk gaan, begin om met finansiële instellings waar ons lede krediet verkry, in gesprek te tree. Gesprekke is in goeie gees gevoer en die aspekte waaroor daar kommer is, is uitgewys. Elke kliënt by 'n bank word as ‘n individu gereken en hanteer. Dit is vir enige finansiële instelling meer belangrik om sy kliënte te behou as wat dit is om hulle uit te win. Daar is moontlike oplossings wanneer 'n persoon wat onder druk kom, betyds met die banke in gesprek gaan tree.
Die vierde industriële rewolusie
Tegnologie en data is die goud van die toekoms. Dit is belangrik dat elke boer ontledend moet gaan kyk hoe tegnologie 'n positiewe verskil in hulle boerderye kan maak. Dit is baie maklik om vervalle te raak in die "lekker" van tegnologie, maar ook net so maklik om ‘n kostebydraende faktor te raak indien dit nie korrek toegepas word nie. Maak dus van die beste kundigheid beskikbaar gebruik om te bepaal wat werklik 'n positiewe verskil op die onderste lyn van die balansstaat veroorsaak. TLU SA het oor tyd heen met Israel se Handelslessenaar geskakel waar firmas van daar af, die nuutste tegnologie beskikbaar stel. Israel word veral op waterbesparende praktyke as wêreldleiers beskou. Ons Hoofbestuurder is genooi om gedurende Junie 'n tegnologie konferensie in Israel by te woon. Ons vertrou dat daar heelwat verwysings en kundigheid teruggebring sal word. Intussen sal daar by Nampo gewis ook by verskeie instansies van die beste kundigheid verkry word.
NUUS UIT DIE STREKE
SENTRAAL
Die Gauteng Diere Gesondheid Forum vergadering het op 2 Mei plaasgevind. Die Sentraalstreek het die vergadering bygewoon en noodsaaklike inligting is uitgestuur.
VRYSTAAT
TLU SA se Vrystaatstreek het op 11 April hul streekkonferensie gehou. Tydens die geleentheid het dr Jaco de Villiers 'n oorsig aangebied oor verskillende vlakke van koöperasies wat, indien geïmplementeer, vir die boer in 'n sterker posisie vir hul eie posisionering kan plaas. TLU SA se Hoofbestuurder, Bennie van Zyl het gesels oor TLU SA se visie vir 'n stabiele en suksesvolle landbousektor in 'n uitdagende politieke en ekonomiese omgewing. Bertus van der Westhuizen is verkies as die Streekvoorsitter.
OOS
TLU SA Oosstreek het in April ‘n gesprek met Afasa en Mpumalanga Landbou gehad oor die daarstel van ‘n Landbouforum vir Mpumalanga. Tydens die vergadering is besluit dat ʼn Landbouforum tussen die drie landbou-organisasies ‘n funksionele doel sal hê om landbouers se stem as eenheid by die Provinsiale regering in Nelspruit in te dra. Daar is besluit dat ‘n Memorandum van Verstandhouding teen einde Mei die lig moet sien. Elke organisasie sal vyf lede hê en die voorsitter sal roteer. ‘n Kworum sal uit twee lede van elke organisasie bestaan en ses lede moet teenwoordig wees om ‘n vergadering te hou. Na verwagting sal die Forum teen einde Mei in Nelspruit bekendgestel word. Beide organisasies was entoesiasties oor die vooruitsig.
Lees meer hier |