Jacob Rees-Mogg, ‘n vooraanstaande lid van die Britse Arbeidersparty en Parlement, het vroeër die jaar die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902) as “plekke van veiligheid” vir Suid-Afrikaanse vroue en kinders beskryf, tydens ‘n regstreekse onderhoud op die BBC se Question Time (sien die video hier).

Hy het verder gegaan deur te sê dat dit nie “sistematiese moord” was nie en dat mense daarheen geneem is om kos te ontvang, omdat die “Boere besig was om in die Boere-oorlog te baklei”.

Die ekonoom Grace Blakely, was ook ‘n gas op die program en het Rees-Mogg telkens in die rede geval om hom daarop te wys dat dit wat hy sê onwaar is. Tog het Rees-Mogg voortgegaan om sy standpunt te verdedig.

“TLU SA het eerstehandse kennis oor die impak van Brittanje se Verskroeide Aarde-beleid op landbou in Suid-Afrika aangesien dit TLU SA was wat gehelp het om boere weer op hulle voete te kry,” sê Louis Meintjies. “Ons is steeds geskok oor hierdie uitlatings van Rees-Mogg en het verder gaan navorsing doen oor die sterftesyfers van hierdie oorlog.”

Volgens die jongste inligting het 61 022 Suid-Afrikaners tussen 1899 en 1902 hulle lewens verloor as gevolg van die oorlog.

Hélène Opperman Lewis, die skrywer van ‘Apartheid – Britain’s Bastard Child’ (2017), sê dat die sterftesyfer in 2017 aangepas is.

“Volgens Elizabeth CC Reynolds se genealogiese navorsing vir haar Meestersgraad in 2017, is die nuwe getalle hoër as die getalle wat gewoonlik aangehaal word,” sê sy. “Daar was 116 572 wit kampgevangenes, van wie 30% – 34 430 – in die kampe dood is. Van die totale sterftes was 80% kinders en 14 431 onder die ouderdom van twee jaar oud. Met ander woorde was vier uit elke vyf sterftes die van ‘n kind.”

“Swart mense is ook in kampe gesit, maar as vlugtelinge geklassifiseer,” verduidelik sy. “Die getalle hieroor is nie heeltemal akkuraat nie, maar word geskat op tussen 15 000 en 18 000.”

Die oorlog, en meer spesifiek Brittanje se beleid, het ‘n enorme invloed op die vooruitgang van landbou in Suid-Afrika gehad.

“Na die oorlog moes alles weer van die grond af opgebou en ontwikkel word,” sê Meintjies. “TLU SA het met groot uitdagings te doen gehad om die boere te ondersteun.

“Dit het miljoene gekos om nie net die landbousektor nie, maar die hele land, weer op die voete te kry. TLU SA het ‘n integrale rol hierin gespeel.

“Ons sal nie toelaat dat die geskiedenis verwring en afgemaak word as iets anders as wat dit was nie: ‘n oorlog gebasseer op die gierigheid van Brittanje. Ons dring daarop aan dat Rees-Mogg, en verkieslik ook die Britse regering, vir sy uitlatings, maar ook die Anglo-Boereoorlog om verskoning vra.”

Teken ons petisie en ons sal jou inskrywing direk aan die Rees-Mogg stuur.