TLU SA het met waardering kennis geneem van mediaberigte wat lui dat Pres. Ramaphosa op hoogte wil bly van plaasaanvalle.

“Ongelukkig bly dit ‘n uitlating tydens ‘n privaatgesprek tussen die president en ‘n individu (Dan Kriek van AgriSA) en nie ‘n amptelike verklaring nie,” sê Mnr. Bertus van der Westhuizen, die voorsitter van TLU SA in die Vrystaat. “Mnr. Kriek is nie die president se amptelike woordvoerder nie. Slegs ‘n openbare en amptelike verklaring vanuit die kantoor van die president of direk van hom af, sal vir ons aanvaarbaar wees.”

TLU SA het die afgelope maand ‘n ope brief aan die president gerig en daarin onder meer versoek dat hy ‘n verklaring uitreik waar hy misdaad en spesifiek plaasaanvalle, veroordeel.

“Dit het nog nie gebeur nie,” sê Van der Westhuizen. “Solank hy huiwer om in die openbaar standpunt in te neem waar hy hierdie brutale misdade summier veroordeel, bly ons negatief teenoor sy en die regering se gesindheid oor plaasaanvalle, moorde en misdaad in die algemeen.”

TLU SA is van mening dat Pres. Ramaphosa ‘n amptelike standpunt moet inneem sodat hy aan sy voornemens en beloftes gemeet kan word.

“Boere, en die publiek in die breë, is op die oomblik so kwesbaar soos ‘n duif op ‘n telefoonpaal,” sê Van der Westhuizen. “As president behoort Mnr. Ramaphosa in die belang van die land sy staatsmanskap te openbaar deur hom sterk uit te spreek oor die misdaadsituasie.

“Baie dankie Mnr. Kriek vir jou goeie bedoelings, maar dit is nie hoe ons by TLU SA deur die president ingelig wil word nie. Slegs ‘n openbare verklaring deur die amptelike kanale van die president of sy kantoor, sal vir ons aanvaarbaar wees.”

Uitgereik deur:          TLU SA

Datum:                       12 Junie 2019

Navrae:                      

Mnr Bertus van der Westhuizen, Voorsitter TLU SA Vrystaat, Sel.: 082 571 5180

Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA, Sel.: 082 466 4470