Op die vooraand van die jaarlikse staatsrede betwyfel TLU SA of Pres. Cyril Ramaphosa enigiets anders as die geykte retoriek van ‘n beter lewe vir almal en dies meer gaan kwytraak.

“Wat gaan dié staatsrede anders maak as enige van dié wat die afgelope paar jaar voorgelê is?” vra Mnr. Louis Meintjes, die President van TLU SA. “Ons hoor elke jaar, selfs onder Zuma, die blink planne en beloftes wat toegepas gaan word om Suid-Afrikaners se lewens te verbeter. Maar solank as wat dié planne kontra-produktief is, is daar bitter min kans vir ‘n beter Suid-Afrika.

“Hierdie is die ideale geleentheid vir Pres. Ramaphosa om sy staatsmanskap te wys en weg te beweeg van die ‘struggle’-mentaliteit waar blaamverplasing aan die orde van die dag is,” sê hy. “Dit is tyd vir die president om verantwoordelik op te tree en die ekonomie eerder as die voortbestaan van die ANC te gebruik as die rigsnoer vir ‘n beter toekoms.

“Dit is nie die toespraak waarvoor die land moet regskuif nie, maar die toepaslikheid van die inhoud van die toespraak en of dit wat tot die land se voordeel gaan wees, wel geïmplementeer gaan word.”

TLU SA wil veral hê dat daar werkbare en volhoubare planne en aksies vir die volgende aangekondig word:

  • ‘n Amptelike erkenning dat die misdaadsituasie in die land, en spesifiek plaasaanvalle en -moorde, buite beheer is;
  • Die opstel en implementering van ‘n volhoubare en effektiewe veiligheidstrategie om misdaad die hok te slaan;
  • Streng en volgehoue optrede teen korrupsie op alle vlakke;
  • Die hersiening van arbeidswetgewing wat eerder werkverlies as werkskepping veroorsaak;
  • Weldeurdagte, duidelike en konsekwente uitsprake en planne oor beleide wat buitelandse beleggings kan beïnvloed;
  • Die staking van enige verdere planne om Artikel 25 van die Grondwet (wat handel oor grondonteiening sonder vergoeding) in die rigting van sosialisme en kommunisme aan te pas; en
  • Die beskerming en ondersteuning van kommersiële boere wat die anker en basis van die ekonomie en voedselsekerheid is.

“Ekonomiese groei is die een uitkoms wat die president van enige land wat hoop om ‘n goeie toekoms vir die land te skep, behoort na te streef,” sê Meintjes. “Elke beleid, standpunt en uitspraak behoort getoets te word  aan wat die invloed daarvan op ekonomiese groei sal wees.

“Dit kan net plaasvind in ‘n omgewing van privaat besitreg en die vryemark. Pres. Ramaphosa behoort homself en sy party te verbind tot ‘n sodanige bestel, en die rigting wat duidelik dui op uiteindelike sosialisme en kommunisme, te verwerp.”

TLU SA sal weereens die markte dophou tydens Pres. Ramaphosa se staatsrede. Dit is die beste en vinnigste maatstaf om vertroue in die ANC, en die president, aan te dui.

 

Uitgereik deur:          TLU SA

 Datum:                       19 Junie 2019

 Navrae:                       Mnr Louis Meintjes, President TLU SA,

                                    Sel.: 082 461 7262

 

                                    Mnr Henk van de Graaf, Voorsitter TLU SA Eiendomsregkomitee,

                                    Sel.: 076 563 3800