TLU SA is uiters bekommerd oor die eskalerende uitsprake op openbare forums waar regeringslui voorspraak maak om Suid-Afrika se pensioenkapitaal aan te wend vir “investering” in sogenaamde vaste bates.

Dit is ‘n uitgemaakte saak dat Suid-Afrika se reserwes, asook die belastingbetalende burgers se vermoë om die onverantwoordelike en roekelose verkwisting van geld deur die regering en munisipaliteite te befonds, nou uitgeput is.

Die enigste twee bates waarop verder geteer kan word is grond en pensioene. Almal is bewus van wat die stand van sake ten opsigte van grond is. Die skrif is nou ook aan die muur vir Suid-Afrika se pensioengelde.

“Ons kan nie stilsit en toelaat dat ons mense se hardverdiende pensioen, wat oor dekades opgebou is, ook nou in die bodemlose putte genaamd Eskom, SAL, PRASA, Denel en andere gestort word nie,” sê Kobus Oberholster, die Hoof van TLU SA se Finansiële Welstandslessenaar.

“Oor ‘n tydperk van 25 jaar is die staatsinstellings deur die ANC-kaders gebring tot waar dit vandag is. Geen buitelandse of plaaslike pensioenkapitaal gaan nou skielik veroorsaak dat hierdie entiteite in ekonomiese suksesverhale verander nie,” sê Oberholster. “Ons is oortuig dat die enigste uitkoms van so ‘n aanwending van pensioenkapitaal ‘n onmiddellike vernietiging van welvaart teweeg sal bring.”

TLU SA sal daadwerklik optree om met weldeurdagte beplanning sy lede te help om verliese en skade op hierdie wyse te beperk. Aangesien elke individu se omstandighede uniek is en een benadering nie algemeen geldend kan wees nie, moet individuele lede in gesprek tree met die Welstandslessenaar by TLU SA ten einde die nodige inligting te kan ontvang om hulle betyds reg te posisioneer.

 

Uitgereik deur:          TLU SA

Datum:                       14 Junie 2019

Navrae:                      Mnr Kobus Oberholster, Hoof: TLU SA Finansiële Welstandslessenaar,

                                    Sel.: 082 330 8607

 

                                    Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,

                                    Sel.: 082 466 4470