Te midde van die vierde Industriële Rewolusie wat voortsnel en vir niemand wag nie, woon TLU SA vandeesweek ‘n omvangryke Landbou-tegnologie Konferensie in Israel by.

“Die omstandighede in Israel het deur die jare veroorsaak dat hulle die plaaslike landbou-omstandighede optimaal moet ontgin en benut,” sê Mnr. Louis Meintjes, die President van TLU SA. “Israel kan vandag as moontlik die voorste land beskou word wat tegnologiese ontwikkeling behels.”

Die konferensie in Israel word van 24 tot 27 Junie aangebied en Mnr. Bennie van Zyl, TLU SA se Hoofbestuurder, verteenwoordig die organisasie daar.

TLU SA skakel voortdurend met Israel oor tegnologie. Hierdie skakeling het in die verlede reeds baie geleenthede vir TLU SA-lede verskaf om goed-ingeligte keuses te maak oor die benutting van tegnologie ten einde optimale winsgewende produksie te kan bereik.

“Tegnologie is ‘n gegewe en elke boer behoort dit maksimaal te ontgin om ingeligte besluite te neem oor watter tegnologie benut moet word,” verduidelik Meintjes. “Dit bly altyd ‘n moeilike keuse om werklik te kan onderskei oor watter tegnologie ‘n positiewe verskil gaan maak op die onderste lyn van die balansstaat. Boere moet waak daarteen om oningeligte besluite te neem en tegnologie in te span bloot omdat dit lekker is om dit te hê, in plaas daarvan omdat dit noodsaaklik is.

“Ons is oortuig dat die skakeling met Israel en hul onderskeie maatskappye vir die Suid-Afrikaanse landbouer groot voordele kan inhou,” sê hy. “Ons is vol vertroue dat beproefde tegnologie voortaan al hoe meer tot ons lede se beskikking gestel sal word.”

 

Uitgereik deur:          TLU SA

Datum:                          26 Junie 2019

 Navrae:                       Mnr Louis Meintjes, President TLU SA,

                                         Sel.: 082 461 7262