proagri

Ekonomiese volhoubaarheid

Talle nuwe wette en regulasies het ‘n uiters negatiewe uitwerking op die landbousektor. In die meerderheid van gevalle, is hierdie nuwe maatreëls eensydig in werking gestel sonder dat die landbousektor sinvolle insette kon lewer. Landbouers is prysnemers, en elke addisionele koste wat produksie beïnvloed, is in werklikheid vir die produsent se eie rekening aangesien dit nie deur die prysstruktuur geabsorbeer kan word nie. Die impak van die volgende aspekte het ‘n wesentlike negatiewe uitwerking op die Ekonomiese Volhoubaarheid van Landbou :

  • Wet op Plaaslike Regering : Munisipale Eiendomsbelasting (Wet 6 van 2004) asook Strukture wet (Wet 117 van 1998). Ongeag die persentasie heffing, sal boere aan addisionele uitgawes onderwerp word – in baie gevalle vir dienste wat in ieder geval nie in die landelike gebiede gelewer word nie.  Hierdie wet word deur die boere in die algemeen as onaanvaarbaar ervaar.  Die invloed van addisionele belastings op produksiemiddele (grond) is uniek in al die ekonomiese sektore.  Voorts verteenwoordig dit ‘n koste element wat nie by produkpryse gevoeg en sodoende verhaal kan word nie.
  • Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998). Hierdie wet impliseer reeds ‘n element van onteiening en onderwerp die boer aan belastings wat voorheen nie betaal was nie. Vir alle praktiese doeleindes is al die water in die land reeds genasionaliseer. TLU SA se standpunt is dat daar slegs betaal word vir die lewering van hoë kwaliteit en volhoubare dienste. Tot tyd en wyl die tersaaklike infrastruktuur daargestel word, sien TLU SA nie sy weg oop om die departement te subsidieer om infrastruktuur te ontwikkel nie.
Wet op Minerale en Petroleum Ontwikkeling (Wet 28 van 2002). “Ou Orde Reghouers het minder as een jaar gehad om hul prospekteer- en mynregte op te neem anders verval sodanige regte. Gevolglik verloor die huidige eienaar ook potensiële inkomste. TLU SA ag die toepassing van die Mineralewet as konstruktiewe onteiening. Gevolglik trag die Unie daarna om die indiwidu se eiendomsreg te beskerm en te verseker of om alternatiewelik, markverwante vergoeding vir elke eienaar van mineraleregte te verseker. Die voorgeskrewe proses om mineraalregte te behou, is ingewikkeld en as sulks kompliseer dit die proses. In die praktyk is die proses nie haalbaar nie.

Taal/Language