proagri

Kersboodskap van TLU SA-president

Met 2009 wat ten einde snel kan ons terugkyk op ‘n jaar wat uiteenlopende eise aan die landbougemeenskap gestel het.
  Dit is ongelukkig so dat kriminele geweld die daaglikse vrede in die landbougebiede wreed ontwrig het en ons harte gaan in hierdie tyd van die jaar in besonder uit na diegene wat ‘n eerste Kersfees moet vier sonder dat hul geliefdes die geleentheid met hulle kan deel. In Suid-Afrika betaal ons ‘n hoë prys vir die voorreg om te kan boer.
  Die afgelope jaar se ekonomiese toestande het ook ‘n tol geëis. Hoë insetkoste en lae produkpryse dra daartoe by dat die volhoubaarheid en winsgewendheid van talle landbouaktiwiteite toenemend onder druk kom.  Ongelukkig het talle boere as gevolg van finansiële redes, geen ander keuse gehad om die beroep te verlaat nie.
  Benewens dit, staar kostestygings, veral op die gebied van energie, ons in die oë en dreig 2010 om die landbou te knou.
  Maar met die wonderlike vooruitsig van Kersfees, wel die geloof in ons op en besef ons opnuut dat ons met ons lewens en ons aardse bedrywighede in die hande van ons Hemelse Vader is. Daarom is dit vir my aangenaam om my mede-gelowiges ‘n geseënde Kersfees toe te wens. Mag ons met ‘n innerlike vrede wat alle verstand te bowe gaan, die geboorte van ons Heiland herdenk, want dit is in daardie geloof wat ons 2010, en elke jaar wat daarna sal kom, tegemoet gaan.

BEN MARAIS
PRESIDENT TLU SA

Taal/Language