proagri

Mediavrystelling:TLU SA stel SOS-veldtog bekend – Versoek buiteland om standpunt in te neem teen onteiening sonder vergoeding

In die aanloop tot die nasionale verkiesing het die regerende ANC weereens baie beloftes oor grondonteiening gemaak om stemme te werf. Die ondersteuners van hierdie pogings om die grondwet te verander sodat grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind, sit nou in ongeduldige afwagting om te sien hoe die regering die proses gaan deurvoer.

TLU SA, vooraanstaande ekonome en Suid-Afrikaners wat die voorspoed van die land in belang het, beklemtoon steeds dat die bedreiging tot privaat besitreg ‘n noodlottige effek op die Suid-Afrikaanse ekonomie sal hê.

 

TLU SA het daarom die #SOS-veldtog bekendgestel.

“Met dié veldtog sal ons ‘n noodsein aan die buiteland stuur, wat hulle versoek om standpunt in te neem teen die grondwetwysiging en die Suid-Afrikaanse regering te waarsku om nie met die kortsigtige planne voort te gaan nie,” verduidelik Mnr. Louis Meintjies, die President van TLU SA. “Ons waarsku al sedert die aanvang van grondonteiening teen die beleid. Ons voorstelle hieroor – wat voordelig vir alle rolspelers is - word egter telkens eenvoudig as regs bestempel en dan van die tafel gevee, sonder om dit na behore te ondersoek.

“Privaat eiendomsreg – hetsy dit grond, aandele of selfs kontant is – is die belangrikste beginsel van ‘n land se ekonomiese groei,” sê hy. “Dit is die staat se verpligting om die land se inwoners en hulle eiendom te beskerm. Wanneer privaat eiendomsreg deur die staat self ondermyn word, faal die regering om hulle verantwoordelikhede na te kom, tot nadeel van die land se ekonomie.”

Wêreldwyd is die lewenstandaard van lande wat privaat eiendomsreg beskerm, baie hoër as dié van lande waar die teenoorgestelde regulasies geld. Vergelyk die top-15 lande wat eiendomsreg beskerm se lewenstandaard en ekonomie met die 15 lande wat die swakste vaar om hierdie regte te beskerm. 

tlu02      

Met die #SOS-veldtog, kan Suid-Afrikaners nou direk ‘n noodsein aan die leiers, ambassadeurs en invloedryke rolspelers van die top-15 lande stuur.

Beskerm die land se ekonomie en toekoms deur hierdie veldtog te ondersteun.

Taal/Language