proagri

Mediaverklaring: Begroting nie oortuigend vir landbou sê TLU

TLU SA het kennis geneem van die poging van die Minister van Finansies, Tito Mboweni om 'n gees van omdraai te projekteer.  Die dilemma is dat daar nog nie 'n omdraai is nie. Die groot vraag is natuurlik presies wie dit is wat die omdraai in die praktyk gaan laat plaasvind.  

“Vanuit 'n landbou-oogpunt is daar uiteraard kommer oor die verhoging in die brandstofheffings,” sê Louis Meintjies, die President van TLU SA. “Dit, terwyl ‘n groot deel van die saaiboere ‘n geruime tyd reeds vasgevang sit in 'n nypende droogte en weinig, indien enige, kapasiteit oor het om hul produksieproses te volvoer. 

 

“Ons is ook bekommerd dat daar nie uitgereik word na die kommersiële sektor van landbou of om dit te probeer stabiliseer nie, omdat ongeveer 68% van ons land se bevolking verstedelik is.

“Die regering se grondoordragprosesse het misluk met, volgens hul eie erkenning, ongeveer 90% wat uit produksie beweeg het,” sê hy. “Heelparty daarvan is weereens geherkapitaliseer en steeds is daar nie sukses nie. Ons as die TLU SA se voorstelle en aanbod om te help word telkens bloot van die tafel af gevee.

“Wat gaan veroorsaak dat daar nie nou net voortgestu sal word om die bodemlose put te probeer vul nie,” wil hy weet. “Die ideologie en die beleid van die ANC rondom die hantering van die beginsel van eiendomsreg gaan gewis nie meehelp om beleggersvertroue te bewerkstellig nie.  

“Die daarstel van infrastruktuur is uiteraard broodnodig en so ook die inspuiting in onderwys. Maar sal die regte  kundigheid ingespan word om seker te maak dat daar positiewe resultate gaan uitkom?

“Ons kan net vertrou dat die NVG met alle moontlike mag en middele die korrupsie en selfverryking op alle vlakke gaan aanspreek en dat die belastingbetalers se swaarverdiende geld aangewend sal word ten goede soos wat die bedoeling daarvan blyk te wees.” 

Gegewe die ANC se beleidsomgewing wat daartoe gelei het dat ‘n groot gedeelte kundigheid vir die land verlore is, asook die voortstuwende onsekerheid met wetgewing wat dit ongunstig maak vir verdere grootskaalse beleggings, is TLU SA nie oortuig dat die ekonomie na die verwagte groei geneem sal word nie.

Staatskuld van meer as 60% en 'n Eskom se skynbare onvermoë om die nodige kraglewering teen bekostigbare pryse te lewer, is steeds die reuse-olifant in die kamer. Kommersiële boere wat vir die kos op die tafel  moet sorg word in die woestyn aan hulself oorgelaat, terwyl reddingsboeie voortdurend aan instellings soos Eskom uitgegooi word.

“Ons sal moet sien wat kredietagentskappe hierna gaan doen,” meen Meintjies. “Die probleem is hoe fondse vir landbou aangewend word. Baie geld word nou vir die bemagtiging van swart boere opsy gesit, hoewel dit in die verlede duidelik was dat dit meestal nie sukses lewer nie. Gaan daar nou ‘n ander uitkoms wees?

“Indien daar ‘n verdere afgradering gebeur sal dit net verder meehelp dat beleggers verbyvaar en sal die ekonomie beswaarlik by die broodnodige groei uitkom.”

Taal/Language