proagri

Mediaverklaring: TLU SA versoek Minister Pravin Gordhan om Eskom te privatiseer

TLU SA is van mening dat die tyd nou finaal aangebreek het vir die staat om Eskom te privatiseer. 

Eskom het Woensdag in die Parlement – te midde van Fase 4 beurtkrag wat die eerste keer ooit ingestel is - erken dat die maatskappy tegnies bankrot en teen April tot niet kan wees indien bestuur op die bestaande trant voortgaan. 

 

Die skuldlas van die land se enigste energieverskaffer staan op ongeveer R420 miljard en met geen lig in die tonnel (‘n verlies van R11,2 miljard vir die 2018/19 boekjaar word deur Eskom verwag) sal dit in die volgende drie jaar tot R650 miljard groei. Vir die vorige boekjaar het die maatskappy ‘n verlies van R2,3 miljard getoon. 

Die inkomste wat nou deur Eskom gegenereer word is nie eers genoeg om die bedryfskoste en rente op skuld te vereffen nie.  

Dit is ‘n erge bedreiging vir die land se ekonomie en die kans is baie groot dat Moody’s Investors Service Suid-Afrika binnekort as gevolg van hierdie stand van sake tot rommelstatus gaan afgradeer. 

“Die enigste oplossing is nou om Eskom te privatiseer,” sê Louis Meintjies, die President van TLU SA. “Die privatisering van Eskom sal die impak van onbevoegde munisipaliteite en die elektrisiteitstoevoer uitskakel. Die tyd het aangebreek om aan privaatinstellings die reg te gee om elektrisiteit op te wek, te versprei en te bestuur.

“Boere en ander besighede kan eenvoudig nie meer bekostig om aan die een kant deur onvoorspelbare elektrisiteitsvoorsiening en aan die ander kant onsekere belegging- en uitvoergeleenthede gekniehalter te word nie.

“Indien privatisering nie gebeur nie moet die hele Suid-Afrika – boere, besighede en individue – gereed maak om hulle sake sonder elektrisiteit te doen.

“Gesien teen die kultuur van korrupsie en swak finansiële bestuur wat eie is aan staatsinstellings, is TLU SA van mening dat privatisering nou die beste oplossing is. 

“Eskom het in die afgelope tien jaar tien uitvoerende hoofde gehad. Korrupsie, bedrog en die invloed van staatskaping het die kredietwaardigheid van die maatskappy in die gedrang gebring. 

“Ons rig ‘n dringende versoek aan die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, om vol te hou met sy onbaatsugtige optrede teen korrupsie, bedrog en die ondermyning van vooruitgang in die land.”  

Taal/Language