proagri

TLU SA bevraagteken haalbaarheid van Pres Ramaphosa se voorstelle tydens Staatsrede

Die werklikheid rakende korrupsie, arbeidswetgewing en kommer rondom buitelandse belegging as gevolg van onsekerheid oor eiendomsreg laat die vraag ontstaan oor hoe prakties haalbaar die voorstelle is wat President Cyril Ramaphosa gisteraand tydens sy staatsrede bekendgemaak het.

Hy het groot klem gelê op planne wat werkskepping en ekonomiese groei bevorder. Pres Ramaphosa het bevestig dat die regering se “aandag, beleide en programme” gefokus is op die sleutelpunte van die ekonomie wat arbeidsintensief is. Hieronder val landbou, toerisme en die oseane-ekonomie.

 

Hy het verder die voorneme uitgespreek om landbou “tot die voordeel van almal” te ontwikkel.

“Vir buitestanders wat nie noodwendig die realiteite in Suid-Afrika ken nie, kan Pres Ramaphosa se staatsrede as positief en goed beskou word,” sê Louis Meintjies, die president van TLU SA. “Maar in werklikheid ontketen dit eerder ‘n magdom vrae en uitdagings.”

“Waar gaan die geld vir al sy planne vandaan kom? Die president het juis weer gisteraand benadruk dat die benadering vir ekonomiese herstel nié is om die land uit moeilikheid te spandeer nie, maar eerder om ekonomiese groei te versnel.”

Landbou is volgens die president ‘n belangrike bron van inkomste vir die land en in die komende jaar sal daar gefokus word op die ontwikkeling en versterking van landbouprodukte met hoë uitvoerpotensiaal. Hy sê dat die ontwikkeling van die landboubedryf baie belangrik is om belegging te lok.

“Net die week was die land weer in rep en roer oor ernstige kommer oor korrupsie en beleidonsekerheid wat vyf wêreldmagte reeds in Junie 2018 as ‘n bedreiging vir buitelandse belegging geïdentifiseer het,” sê Meintjies. “Ramaphosa meen dié kommer is wel verlig en dat daar nou sekerheid oor beleide wat beleggings kan beïnvloed, is. Hy het in Januarie aan beleggers by die Wêreld Ekonomiese Forum die versekering gegee dat daar nie aan die Reserwebank getorring sal word nie, maar dan erken adjunk-President David Mabuza in die parlement dat die regering beplan om die Reserwebank se mandaat te verander en sy onafhanklikheid te verminder.”

Die beleggingslande was ook bekommerd oor die implikasies wat grondonteiening sonder vergoeding vir private eiendomsreg inhou. Maar tydens die staatsrede beklemtoon Pres Ramaphosa die hersiening van Artikel 25 van die Grondwet wat handel oor grondonteiening sonder vergoeding. Die regering meen dat dít gaan bydra om landbou se uitsette te verhoog en die ekonomie te versterk.

Die president het ook aangevoer dat werkskepping een van die belangrikste sake is wat aandag sal ontvang. Die landboubedryf ervaar egter dat arbeidswetgewing soos die nasionale minimumloon vir plaaswerkers dit baie moeilik maak om werkers in diens te neem, ten spyte van die president se versekering dat dit nie tot werksverliese sal lei nie.

Pres Ramaphosa het verder genoem dat vaardigheidsontwikkeling en programme om kapasiteit te bou spesifiek vir kleinboere en opkomende swart boere geprioritiseer sal word.

“Die kommersiële boer, wat die anker en basis is van die ekonomie en voedselsekerheid, is nie op sy agenda nie,” sê Meintjies. “Mens sou verwag dat die president van landbou sy vriend sou maak as hy darem kan sien hoe belangrik dit vir die ekonomie is. Maar hy hanteer die bedryf met minagting, al is daar groot welwillendheid van ons kant af.”

Verder is dit vir TLU SA onduidelik hoe die president korrupsie, veral rakende landbou, gaan beperk. Vandeesweek het R220 miljoen wat in 2015 vir droogtehulp aan KwaZulu-Natal bewillig is, weer onder die loep gekom. Vier jaar later kan daar steeds nie rekenskap gegee word vir die fondse nie. Dit het nie by die boere uitgekom nie.

“Daar kan maar berade gehou word oor werkskepping, planne gemaak word vir onderwys en  beloftes oor ‘n beter lewe vir armes gemaak word, maar as landbou nie reg ondersteun word nie, is dit alles verniet,” verduidelik Meintjies. “Die president droom mooi drome vir die land, maar as die kommersiële boer nie beskerm word nie, gaan dit in ‘n nagmerrie ontaard.”

Taal/Language