proagri

Mediaverklaring: TLU SA steun wêreldmagte se kommer oor die toestand in Suid-Afrika – Versoek verdere buitelandse druk

TLU SA steun verskeie lande se kommer oor die bedreiging wat die toestand in Suid-Afrika vir buitelandse belegging inhou.

Die Sunday Times het die afgelope Sondag berig dat die ambassades van Amerika, Brittanje, Nederland, Duitsland en Switserland ‘n memorandum wat raak aan verskeie sake soos korrupsie, eiendomsreg asook die twyfelagtige oppergesag van die reg en eerlike en etiese sakepraktyke in Suid-Afrika direk aan President Cyril Ramaphosa gestuur is. 

 

Met nadere ondersoek blyk dit dat die memorandum eintlik ‘n besprekingsdokument was wat reeds in Junie 2018 deur hierdie vyf lande (wat sowat 75% van buitelandse beleggings in die land verteenwoordig) saamgestel is. Die lande het Pres Ramaphosa toe al gewaarsku dat sy beleggingstoere na die buiteland skade sou lei as regeringsbeleide en die oppergesag van die reg nie strenger en meer konsekwent toegepas word nie.

Die memorandum lui dat die lande bekommerd is oor die veiligheid van buitelandse beleggings en eiendomsbelange. Die waarskuwingsnota verwys na spesifieke probleme soos swart ekonomiese bemagtigingsvereistes, intellektuele eiendom, die voortgesette veranderings aan die mynbou manifes en eiendomsreg.

Dit is egter skokkend dat die Departement van Internasionale Betrekkinge verkies het om na Sondag se berig, eerder aandag te skenk aan die verkeerde protokol wat met die memorandum gevolg sou word, as om kennis te neem van die ernstige kommer van hierdie lande.

TLU SA verwelkom egter die lande se ondersteuning van Suid-Afrika as ‘n belegging-veilige land wat die oppergesag van die wet onderhou. In die lig hiervan sal TLU SA ‘n veldtog van stapel stuur om ander lande en internasionale rolspelers te versoek om verdere druk toe te pas op die regering.

Volgens Louis Meintjes, President van TLU SA, spruit die veldtog uit die besluit van die ANC om ‘n beleid te volg waarmee grond sonder vergoeding onteien sal word.

“Dit is ‘n regstreekse bedreiging van die kernbeginsels van eiendomsreg,” sê hy.

Die TLU SA het die volgende vier-punt-strategie:

  1. 1. TLU SA sal tot in die hoogste hof baklei om grondonteiening sonder vergoeding te keer;
  2. 2. Internasionale skakeling met die doel om druk toe te pas op die Suid-Afrikaanse regering;
  3. 3. Verskerping en uitbouing van TLU SA se veiligheidstrukture; en
  4. 4. Om die publiek, sake-sektor en media te mobiliseer om ons saak te ondersteun en om interne druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas.

Vir media navrae kontak:

Louis Meintjies – President: TLU SA

Sel: 082 461 7262

Bennie van Zyl – Hoofbestuurder: TLU SA

Sel: 082 466 4470  

Taal/Language