proagri

Mediaverklaring: Rommelstatus en Voedselpryse

 

Die feit dat die nuwe Minister van Finansies redelik ongeërg voorkom oor die land se pas verworwe rommelstatus, en die feit dat pres. Zuma nie daaroor wil praat nie, is skokkend en dui op ‘n absolute ongeërgdheid oor die lot van die verbruikers en die armes van die land, sê die President van TLU SA, mnr. Louis Meintjes.

 

“Toe mnr. Zuma sy kabinetskommeling aangekondig het, het hy in sy verklaring gesê dit sal help om radikale ekonomiese transformasie te bevorder. Nou sien ons eerstehands wat die uitkoms is van mnr. Zuma en sy regering se radikale ekonomiese transformasie, wat beslis nie tot voordeel van die verbruikers en die armes is nie,” sê mnr. Meintjes.

 

“TLU SA wil dit nou baie duidelik op rekord plaas dat die boere nie geblameer gaan word as voedselpryse styg as gevolg van die land se rommelstatus nie. Die boere weier om nog ‘n beskuldiging teen hulle te kry, nadat hulle kwaadwillig en ongegrond beskuldig word dat hulle hul grond gesteel het.

 

“Voedselpryse gaan styg, maar die blaam daarvoor sal vierkantig voor mnr. Zuma en sy radikale ekonomiese transformasiespan gelê word. Hy en sy regering sal moet verduidelik hoe dit gebeur,” sê mnr. Meintjes.

 

Taal/Language