proagri

Mediaverklaring: Boere kan stabiliteit handhaaf buite die Regering

Boere kan stabiliteit handhaaf buite die regering

Die nuus van krediet-afgradering van Suid-Afrika is ook vir die landbou slegte nuus, al kan boere wat uitvoer moontlik voordeel trek uit ‘n tuimelende rand.  In die groter prentjie van die landsekonomie en stabiliteit, is dit egter erg nadelig, ook vir landbou.

Mnr. Louis Meintjes, TLU SA se President, sê dat die land se rommelstatus in wese ‘n kompliment is, want as daar ‘n gemors status sou wees, sou Suid-Afrika onder die ANC daarvoor kwalifiseer.  “Die rommelstatus spreek net die ekonomie en beleggersvertroue aan, maar op beleidsvlak het die land reeds ‘n gemorsstatus bereik met ‘n regering waarvan die ministers mekaar weerspreek, beleid wat van dag tot dag verander en waar revolusies van verskillende aard bepleit word,” sê mnr.

Meintjes.

“Al prioriteit wat daar vir landbou nou is, is om voedsel op die tafel te plaas vir die land se inwoners, so bekostigbaar moontlik.  Die rommelstatus gaan ‘n invloed op voedselpryse hê, en lesse in Egipte het al getoon dat hoë voedselpryse wat onbekostigbaar word, tot revolusie kan aanleiding gee.  Daarom moet landbou hom geheel en al onttrek van die regeringspolitiek, wat ideologies gedrewe is en nie met die realiteit van die ekonomie rekening hou nie.  Die boere kan die stabiliserende mag in die land wees, mits hulle hulle nie laat aflei en verlei deur die regering se mislukkende beleid nie.  Die ANC moet alleen pa staan vir die land se toestand, en ons as boere moet net doen wat ons moet doen, en dit is om te boer. Ons doen dit al lank reeds ten spyte van die ANC-regering en sy beleid, en nie danksy ‘n ANC-regering nie,” sê mnr. Meintjes.

Taal/Language