proagri

Regering pleeg verraad teenoor boere oor veiligheid

Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, het pres. Jacob Zuma daarvan beskuldig dat sy regering nie die politieke wil het om na die boeregemeenskap se veiligheid om te sien nie.

 

Mnr. Meintjes het pres. Zuma verder daarvan beskuldig dat hy die landbougemeenskap, synde ‘n strategies belangrike komponent wat stabiliteit kan verseker, verraai deur sy versuim om iets aan dié uiters belangrike gemeenskap se veiligheid, as voorsieners vir voedsel op almal se tafel, te doen.

 

In die eerste 14 dae van die tweede maand van die jaar is reeds 11 mense op plase vermoor. Dis byna een moord per dag.

 

TLU SA staan daarop dat die regering ‘n Grondwetlike verpligting het om na die veiligheid van sy burgers om te sien, waarvan hy nie kan wegkom nie. Dit sluit die landbougemeenskap in, sê mnr. Meintjes.

 

Daarbenewens huiwer die land op die rand van ekonomiese rommelstatus. “Die regering moet ‘n klimaat skep waarbinne die privaatsektor met vertroue sal wil belê. Die Zuma-regering faal klaaglik daarin, net soos met sy verpligting om die gemeenskap veilig te hou,” sê mnr. Meintjes.

 

Die veiligheidsklimaat in Suid-Afrika is onaanvaarbaar en in wese korrup as gevolg van die ANC-regering wie se enigste beleid, die voortsetting van die "struggle" is, wat in praktyk neerkom op die oorlewing en verryking van regeringslui en hulle trawante, in plaas daarvan om die land te regeer tot almal se voordeel.  “Die voorbeeld wat die regering stel en ander toelaat om te stel, is inderdaad 'n aanmoediging vir enigiemand om maar te neem wat hulle wil waar hulle wil, al is dit selfs 'n persoon se lewe.  Plaasboere is vandag grootliks op hulself aangewese vir hul eie veiligheid terwyl politici uit hul pad gaan om voldoende veiligheidsmeganismes daar te stel om hulself op te pas, selfs om die SANW te ontplooi.

 

Mnr. Meintjes het president Zuma gedaag om sy standpunt oor die onaanvaarbare vlakke van plaasmoorde in geen onduidelike taal te stel, maar verder ook duidelik uit te stippel wat die regering se onmiddellike plan van aksie is om hierdie vergryp teen die reg van lewe van landbouers te stuit.

 

“Intussen het die landbougemeenskap geen alternatief as om homself te mobiliseer om die terrorisme wat teen hom gepleeg word, met gelyke munt te beantwoord nie.  Ons boere weier om in groen sakke van hulle plase gedra te word, terwyl die misdadigers binne dae borgtog kry om as helde van hulle gemeenskap geparadeer te word. Die boere se gemoedere loop hoog, en baie voel al byna dat hulle niks meer het om te verloor nie en is daarom bereid om tot uiterstes te gaan om ten minste hulle lewens en dié van hulle naasbestaandes met alles tot hulle beskikking te verdedig,” sê mnr. Meintjes.  “Net die regering is vir die plofbare situasie te blameer.”

 

 

 

Taal/Language